Vuiste klap by Maccauvlei tydens skool-gholfdag
Die veelbesproke bakleiery op die gholfbaan wat op video vasglê is en die hele land aan die gons het, het op Vrydag 9 April by die Maccauvlei-gholfklub, een van die oudste gholfklubs in die land, in Vereeniging gebeur.
VEREENIGING. – Twee plaaslike sakemanne het glo oor ‘n selfoon gestry voordat die vuiste by die negende putjie geklap het.
Die voorval het tydens ‘n gholfdag van die Laerskool Vryheidsmonument plaasgevind.

Die name van die twee mans wat baklei is aan Vaalweekblad bekend. Die een is by ‘n instandhoudingsmaatskappy betrokke en die ander een by ‘n sekuriteitsmaatskappy.

Volgens Leon Kruger, die algemene bestuurder van die gholfklub, is dit die eerste keer in die vyftien jaar wat hy bestuurder by die gholfklub is wat so iets gebeur.

Volgens Kruger stel die bakleiery die gholfklub en die skool in ‘n swak lig.

Hy sê nie een van die mans is lede van die gholfklub nie.

“Indien hulle was sou hulle sumier geskors word weens hul optrede.”
Volgens Kruger het die voorval laatmiddag gebeur. Drank het glo ‘n rol gespeel.
