Massa-patrollie in Vereeniging se middestad gehou
Die klank van polisiesirenes het Vrydagaand deur Vereeniging se middestad weergalm en blou ligte het geflits.
VEREENIGING. – Die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum, sektor-misdaadforums en verskeie sekuriteitsmaatskappye van die omgewing het aan ‘n massa-patrollie in die middestad en buurte deelgeneem.
Die groep patrolleerders het omstreeks 18:00 by River Square byeengekom en van daar af na die middestad beweeg.

Die massa-patrollie het ook deur die buurt van Drie Riviere beweeg.

Vereeniging se waarnemende stadiekommissaris, kol. M.W. Petsana, het almal teenwoordig in die parkeerterrein van die River Square sentrum toegespreek.

Petasna het almal wat aan die massa-patrollie deelgeneem het bedank vir hul deelname. Volgens Petsana is die tyd ryp om Vereeniging se strate terug te eis.
“Kriminele maak soos hulle wil. Ons kan as die polisie ons bes probeer maar as ons hande vat met die gemeenskap kan ons ‘n groter area dek en ‘n groter impak maak,” het Petsana aan patrolleerdeerders gesê.
Kobus Hoffman, VF+ lid van die Provinsiale Wetgewer wat ook op die provinsiale veiligheidskomitee dien, het aan die massa-patrollie deelgeneem.

Volgens Hoffman berus mense se veiligheid maar in hul eie hande. Dit is dus belangrik dat hulle self in die stryd teen misdaad betrokke raak.
