Local newsNationalNewsNews

Bejaardes loop deur onder misdaadvlaag

Paraatheid is by Huis Meyerton opgeskerp nadat diewe blykbaar in die vroeë oggendure van Saterdag 17 April by ’n inwoners se wooneenheid probeer inbreek het.

VEREENIGING. – Rudie Raath, ‘n inwoner, het by navraag aan Vaalweekblad bevestig dat die diewe sy slot beskadig het in ’n poging om sy deur oop te kry, maar dat niks gevat is nie.

Raath was die naweek by familie in Reitz en die inbrekers het moontlik geweet dat hy nie tuis is nie.

Jan Theron (83), ‘n ander inwoner, vertel dat die diewe op die selfde aand probeer het om by die kattebak van sy 1984  Opel Rekord in te breek.

‘n Voorbeeld van hoe ‘n 1984 Opel Rekord lyk.

Volgens Theron het hy die kattebak die volgende oggend oop aangetref.

Daar is ook niks gevat nie. Volgens Theron is dit die derde keer wat inbrekers by sy kar inbreek.

“Die vorige keer het hulle die spaarwiel, die jack, die cross spanner, sleeptou en petrolkan gevat.”

Dit blyk of die inbrekers die palisadieheining oop gebuig het om in die oord vir bejaardes te kom.

Die inbrekers het glo die palisadeheining met hierdie gereedskapstuk oopgebreek. Foto: Verskaf

Brenda Spamers, die bestuurder van huis Meyerton, sê inwoners is geruk en voel dat daar inbreek op hul privaatheid gemaak is.

“Dit is baie traumaties vir inwoners,” vertel sy.

Volgens haar is daar al baie gedoen om die ouetehuis te beveilig soos om ’n geëlektrifiseerde heinging op te rig, bo en behalwe die palisadeheining wat reeds daar is.

Daar is ook ‘n hek met toegangsbeheer  en GPF-patrolleerders wat ‘n draai daar maak.

Daar was in ‘n stadium planne vir ‘n baksteenmuur en veiligheidskameras op verskeie plekke in die oord maar baie inwoners was daarteen gekant, vertel Spamers.

Volgens Spamers is die oord naby aan Meyerton se sakekern en is daar heelwat leegleêrs wat bedags in die strate by die ouetehuis sit en die perseel van die straat af dophou.

Volgens Spamers is die polisie al genader om met die probleem te help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button