Ontploffing van kleur by Midvaal-renbaan op Vryheidsdag
Inwoners van die Vaaldriehoek kan hulle gereed maak vir ’n kleurontploffing op Vryheidsdag by die Midvaal-renbaan!
MIDVAAL. – Die Winter Blessing Colour Run & Foam Pit vind om 08:00 op 27 April by die Midvaal-renbaan plaas.
Daar sal stalletjies, vermaak, bykomende aktiwiteite en ’n motorskou wees.
Die organiseerder, Angeline Swanepoel, ’n inwoner van Meyerton en deelnemer aan die derde seisoen van die Ster-Status realiteitsreeks, sê sy het besluit om die dag te reël as ’n fondsinsameling vir die Fabulous Girl-liefdadigheidstigting en Showers of Blessings.
Showers of Blessing word deur Corrie and Sonja Van Staden bedryf en het ten doel om hawelose mense te help met storte, klere en maaltye. Die Fabulous Girl-liefdadigheidstigting se hoofdoel is om ondersteuning te bied aan behoeftige meisies in die vorm van kos, speelgoed en alles wat benodig word om nood te verlig.
Die inskryffooi vir die Winter Blessing Colour Run & Foam Pit is R40 en dit sluit ’n Buff vir deelnemers in. Die Ster-Status-realiteitsreeks is ’n platform om vroue in die vermaaklikheidsbedryf te bemagtig en is op Via (kanaal 147) te sien. Skakel Angeline by 076 405 2301.