T20-eindstryd maak geskiedenis
VEREENIGING. – Die eindstryd van die plaaslike Cancer Awareness T20-reeks wat more-middag om 12:15 op die Dick Fourie-stadion tussen Meyerton en Old Vaal beslis word, is propvol eerstes. Dit is die eerste keer in 23 jaar dat die skeidsregters in witjasse sal diens doen en dit is ook die eerste keer in Sedibeng-krieket se geskiedenis …
VEREENIGING. – Die eindstryd van die plaaslike Cancer Awareness T20-reeks wat more-middag om 12:15 op die Dick Fourie-stadion tussen Meyerton en Old Vaal beslis word, is propvol eerstes.
Dit is die eerste keer in 23 jaar dat die skeidsregters in witjasse sal diens doen en dit is ook die eerste keer in Sedibeng-krieket se geskiedenis dat Old Vaal se tweede span in ‘n eindstryd speel. Maar die interessante brokkies stop nie daar nie. Die 44-jarige Marcel Engelbrecht, kaptein van Meyerton Krieketklub, word more die oudste speler in Sedibeng-krieket se geskiedenis om in ‘n eindstryd te speel. Hy lei Meyerton more vir die 33ste keer as kaptein op die veld en spog met die rekord dat hy in sy 32 wedstryde as kaptein nog net een keer aan die verloorkant was.
Daar word altyd gesê dat sportgene sterker in sekere families is en as daar na die samestelling van more se spanne gekyk word, wil dit voorkom asof die stelling akkuraat is. Drie stelle broers sal in die eindstryd in aksie wees. Die Kok-broers JP en Alex en die Penning -broers Charl en Francois gaan vir Meyerton diens doen terwyl Morne en Eben Erasmus vir Old Vaal sal verteenwoordig.
Die Kokke se ouers Jianni (tellinghouer) en Pierre (spanbestuurder van Meyerton) gaan ook die geskiedkundige dag saam met hulle spruite beleef.
