Bruin/geel water weens ‘organiese materiaal’ sê Rand Water
Inwoners van Vereeniging is gewalg deur geel/bruin onwelriekende water wat uit hul krane uit vloei.
VEREENIGING. – Rand Water het in ‘n onlangse verklaring verduidelik dat die probleem verband hou met uitdagings wat deur die vinnig stygende watervlakke veroorsaak is.

“Die goeie reën in Januarie en Februarie vanjaar het veroorsaak dat die Vaaldam vinnig vol geword het. (Die dam was teen die begin van die week bykans 103% vol).

“Terwyl dit goeie nuus vir waterverbruikers in Gauteng en omliggende provinsies is, het dit ongelukkig ook uitdagings gebring.
“Organiese materiaal (meestal veroorsaak deur plante wat in die vloedplein langs waterstrome groei) het in die dam beland weens sterk vloeiende riviere,” verduidelik Rand Water in die verklaring.
“Die organiese materiaal gee aan die water ‘n geel/bruin kleur.
Die kleur is ook sigbaar in drinkwater, veral wanneer baddens en wasbakke gevul is,” lui die verklaring.

Rand Water het in die verklaring die versekering gegee dat die water veilig is om te drink en gesê dat dit geen nadelige uitwerking op mense se gesondheid sal hê nie.
“Hoewel hierdie organiese materiaal onskadelik is, is die geel/bruin kleur van die water onooglik.
“Rand Water is besig om die behandelingsproses te optimaliseer om die verkleuring van die drinkwater te beperk.
“Wees gerus dat Rand Water gereeld omvattende toetsing doen om te verseker dat die kwaliteit van drinkwater ten alle tye aan die riglyne van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voldoen.

“Die drinkwater wat tans voorsien word bly veilig vir menslike gebruik en met toestande by die Vaaldam wat na normaal terugkeer, behoort die probleem met tyd reg te kom,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.
Rdl. Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het op ’n Facebook-plasing gesê die water lyk nie net snaaks nie, dit ruik ook snaaks.
Volgens haar word Duncanville, Unitaspark, Drie Riviere en sekere strate in Risiville daardeur geraak.

Volgens haar is die probleme oor die water reeds aan Metsi-A-Lekoa, die entiteit wat Emfuleni se watersake behartig, gerapporteer.
Geen terugvoer is egter nog ontvang nie.
Sy het ook daarop aangedring dat die water getoets word en dat die bevindings van die verslag aan die publiek bekend gemaak word.
