Klubrugby vat weer vlam
VANDERBIJLPARK. – Volgens die digter C. Louis Leipoldt is Oktober die mooiste, mooiste maand… Maar rugbyliefhebbers sal met hom verskil. Veral diegene wat by klubrugby betrokke is. Die Valke se langverwagte terugkeer tot die geliefde spel met die ovaalbal vind op 22 Mei plaas. Die Valke se Peregrine-, Merlin- en Kestrel-liga sal gelyktydig plaasvind. Die …
VANDERBIJLPARK. – Volgens die digter C. Louis Leipoldt is Oktober die mooiste, mooiste maand… Maar rugbyliefhebbers sal met hom verskil. Veral diegene wat by klubrugby betrokke is. Die Valke se langverwagte terugkeer tot die geliefde spel met die ovaalbal vind op 22 Mei plaas.
Die Valke se Peregrine-, Merlin- en Kestrel-liga sal gelyktydig plaasvind. Die hartseer stand van sake is dat Oos-Rand Polisie en Sasolburg Rugbyklub die besluit geneem het om nie die seisoen te speel nie.
Nog ‘n klub in die Peregrine-liga met wie dinge nie heeltemal klopdisselboom gaan nie, is East Rand United (ERU). Die spanne in die Peregrine-liga: NWU Vaal, Boksburg, Brakpan, Springs, Vereeniging, ERU en Springs sal in ‘n enkelrondte teen mekaar te staan kom. Die klubs gaan dus drie opeenvolgende wedstryde speel en dan een week rus, waarna die drie oorblywende bepalings afgehandel sal word. Die halfeindstryde vind op 24 Julie plaas. Die datum vir die eindstryd sal nog bevestig word.
Die Valke Rugby Unie se bepalings is met ope arms ontvang. Veral die herontmoeting van Springs en Vereeniging Rugbyklub (VRK) op 22 Mei wat mekaar in 2019 in die eindstryd aangedurf het, wek groot belangstelling. Vereeniging is tans die verdedigende Valke-kampioen en sal tuis sy veldtog in vanjaar se verkorte kompetisie op ‘n wennoot wil afskop. Die week daarna durf VRK sy buurman, die NWU Vaal in die jaarlikse derby in Vanderbijlpark aan.
Al die klubs sukkel tans weens die onsekerheid van die Covid-19 pandemie om spelers bymekaar te hark. Volgens Stefan Jacobs, direkteur van afrigting en rugby by Vereeniging Rugbyklub, gaan dit fyn beplanning en raakvat kos om die spelers in ‘n bitter kort tyd wedstrydfiks te kry.
Op 1 Mei hou Meyerton Rugbyklub en Vereeniging ‘n opwarmingsdag sodat die klubs hul vir die opkomende liga kan slyp. VRK speel voorts nog twee opwarmingswedstryde onderskeidelik op 7 en 14 Mei teen Secunda (tuis) en Witbank (weg). Dit gaan ‘n kort, maar opwindende rugbyseisoen wees.
