Hoëhof-bevel: Emfuleni moet gevaarlike sinkgat in weduwee se erf herstel
Indien die munisipaliteit die sinkgat en omliggende skade nie teen 31 Mei herstel het nie, sal ELM skuldig wees aan minagting van ‘n bevel van die hooggeregshof
VANDERBIJLPARK. – Na drie jaar van kommer en frustrasie oor ‘n sinkgat in haar erf wat weens ‘n verbrokkelde munisipale stormwaterpyp ingeval het, het ‘n plaaslike weduwee, mev. Hannelie Pienaar, pas ‘n hooggeregshofsaak in Johannesburg teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) gewen.
Die hof het op 13 April ‘n bevel gemaak wat die munisipaliteit dwing om die gat en stukkende betonpyp teen 31 Mei vanjaar te herstel, en dat haar grensmuur en ander gevolglike skade weens die sinkgat ook op ELM se koste herstel moet word. Die hooggeregshof het voorts beveel dat die munisipaliteit haar regskoste moet betaal.
Mev. Pienaar se sonde met die sinkgat het in 2018 begin toe dit die eerste keer langs haar meenthuis in ‘n luukse kompleks in SW5 in die suide van Vanderbijlpark, ingeval het. Na vele versoeke wat aanvanklik deur die munisipaliteit geïgnoreer is, is die gat van sowat 3 meter by 3 meter en twee-en-‘n-half meter diep, uiteindelik die volgende jaar op 15 Julie 2019, herstel. Haar grensmuur wat ook weens die sinkgat beskadig is, is egter nie herstel nie omdat die munisipaliteit gereken het die herbou en verf daarvan is haar eie verantwoordelikheid. Dit, ten spyte daarvan dat die skade die natuurlike gevolg was van verbrokkelde munisipale infrastruktuur rondom die muur.
Gedurende November 2020 het mev. Pienaar se nagmerrie van vooraf begin toe daar tekens was dat haar grasperk op dieselfde plek begin induik. Dit was duidelik dat die sinkgat weer besig was om onder die oppervlak te vorm. ‘n Bekommerde mev. Pienaar het die munisipaliteit oor die ontwikkelende probleem ingelig, maar sy het geen daadwerklike reaksie gekry nie. Swaar reën het dwarsdeur die eerste weke van Januarie 2021 in Vanderbijlpark geval, met gepaardgaande stormwatervloede in die suide van die dorp.
Mev. Pienaar het gevrees dat die groot volume stormwater kon veroorsaak dat die sinkgat weer vorm, en dat dit dié keer ook ‘n gedeelte van haar huis, wat sowat 4 meter vanaf die insinking is, kon laat inval. Dit sou mev. Pienaar nie net met ‘n groot rekening laat as sy die herstelwerk self sou moes doen nie, maar sy sou die eiendom ook nie in dié omstandighede kon uitverhuur nie en dus ‘n toekomstige huurinkomste kwyt wees.
Op 14 Januarie vanjaar het die grond inderdaad weer heeltemal ingeval en opnuut ‘n groot sinkgat gevorm.
Mev. Pienaar het besluit om nie meer vrou-alleen teen die munisipaliteit te veg nie maar die hulp van regskenners in te roep. Sy is die volgende dag na Vermaak & Siecker Prokureurs, waar mnr. Ockert Vermaak dadelik die erns van die situasie besef het.
“Die sinkgat het ‘n opening tussen mev. Pienaar se eiendom en die stormwatersloot agter haar eiendom gevorm, wat natuurlik ‘n groot veiligheidsrisiko vir die huisbewoners ingehou het,” sê mnr. Vermaak. Hy het nog dieselfde dag ‘n dringende skrywe aan ELM gerig om hulle op die gevare en moontlike gevolge te wys as die sinkgat en stukkende stormwaterpyp nie onmiddellik herstel word nie. Die munisipaliteit het egter eers tien dae later laat weet dat hulle aandag aan die probleem sal gee.
Nog ‘n paar dae later het ELM laat weet hulle is besig met ‘n “procurement process” en dat die sinkgat teen einde Februarie herstel sou wees. Februarie het egter gekom en gegaan sonder dat ELM die sinkgat herstel het. Dit is toe dat mnr. Vermaak ‘n dringende aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het. Die hof het 13 April as datum gegee en die hofaansoek is op 19 Maart op die munisipaliteit beteken.
Eers tien dae daarna het mnr. Vermaak ‘n skrywe vanaf ELM ontvang dat die munisipaliteit beoog het om op 23 Maart die werk op tender te begin adverteer. Kort daarna ontvang hy toe ook ‘n foonoproep van ELM met ‘n versoek om die saak buite die hof te skik en die aansoek terug te trek.
“Ons het die munisipaliteit egter in kennis gestel dat ons, ten spyte van die skrywe en oproep, sou voortgaan met die hof-aksie. Indien ons dit sou uitstel of stop, sou ons geen verdere beskerming of versekering gehad het dat die werk gedoen gaan word nie,” sê mnr. Vermaak. Die uiteinde was dat hy, tesame met advokaat S. Neuland, die saak op 13 April suksesvol vir mev. Pienaar in die hooggeregshof kon deurhaak.
Indien die munisipaliteit die sinkgat en omliggende skade nie teen 31 Mei herstel het nie, sal ELM skuldig wees aan minagting van ‘n bevel van die hooggeregshof, wat verdere interessante regsimplikasies sal inhou. “Dit is jammer dat ELM se belastingbetalers indirek die kostes moet dra, maar dit is skynbaar die enigste manier hoe inwoners die munisipaliteit tot verantwoording kan roep,” sê mnr. Vermaak.


***************************************************************************************************************************

