Local newsNationalNews

Inwoners van Emfuleni-wyk wil oorskuif Midvaal toe

Inwoners van ’n wyk van die swakste munisipaliteit in Gauteng, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wil oorskuif na die beste munispaliteit in Gauteng, die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.

VEREENIGING. – Volgens rdl. Daleen Venter, wyksraadslid vir Drie Riviere, is dit moontlik vir wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit om oor te gaan na die naburige Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, maar dan benodig hulle 75% van inwoners se steun. Volgens die laaste sensusopname is die bevolking van die wyk 9249, maar die getal mense wat in die wyk bly kan volgens Venter dalk nader aan 15 000 wees.

Drie Riviere het tussen 9 000 en 15 000 inwoners. Foto: Christiaan Cloete

Venter en rdl. Salome Janse van Rensburg, raadslid vir Risiville, begin hierdie week met ’n opname om inwoners se gevoel hieroor te toets.

Inwoners van Drie Riviere by ‘n tamaai slaggat tydens laasjaar se kragonderbreking wat 32 dae lank geduur het. Foto: Christiaan Cloete

Die Emfuleni Plaaslike Munispaliteit is onlangs deur die graderingsagentskap Ratings Afrika as die swakste munisipaliteit in Gauteng aangewys met ’n telling van net 21, teenoor die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, wat ’n telling van 77 persent gekry het.

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit word as die swakste munisipaliteit in Gauteng beskou terwyl die naburige Midvaal Plaaslike Munisipaliteit tans as die beste geag word. Foto: Christiaan Cloete

‘n Onlangse kragonderbreking wat 32 dae geduur het, alewige probleme met krag en waterdruk en ’n algehele gebrek aan dienslewering is volgens Venter van die faktore wat daartoe gelei het dat inwoners nou met alle mag en mening wil oorskuif.

Inwoners van Drie Riviere betoog verlede jaar tydens die groot kragonderbreking wat 32 dae geduur het. Foto: Christiaan Cloete

Janse van Rensburg sê inwoners van Drie Riviere, Drie Riviere-Oos en Drie Riviere Proper het genoeg gehad van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit onder ANC-leierskap.

Baie mense het genoeg gehad van die Emfuleni Plaaslike Munsipaliteit. Foto: Ettienne van Rensburg

“Die behoefte van inwoners om die buurt van Drie Riviere te probeer red deur oor te skuif na die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit neem vinnig toe namate eiendomswaarde teen ’n onrusbarende tempo verlaag en die stand van die buurt vinnig agteruitgaan.

Waterlekke wat nie reggemaak word nie is aan die orde van die dag in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit. Foto: Christiaan Cloete

“Die eens pragtige buurt van Drie Riviere het nou so baie slaggate dat wanneer jy die een probeer mis, jy in ’n ander een vasry. Die straatligte werk nie en miljoene liter water gaan elke dag verlore weens waterlekke wat nie reggemaak word nie.

Rou riool stoot in Fred Enslin (62), ‘n inwoner van Caledon Close in Caledonstraat, se erf op. Foto: Christiaan Cloete

  “Riool stoot in tuine op en daar is eenvoudig te veel probleme om op te noem,” vertel Janse van Rensburg.

Rdl. Daleen Venter van Drie Riviere meen dit is moontlik vir wyk 1 oom oor te gaan Midvaal toe maar dan word 75% van die bevolking se steun benodig. Foto: Christiaan Cloete

Volgens ’n bekende eiendomsagent van die Vaaldriehoek met wie Vaalweekblad verlede week gesels het is een van die eerste vrae wat voornemende huiskopers vra wie in bewind is van die buurt en of dit ’n DA of ANC area is.

Inwoners betoog tydens verlede jaar se kragonderbreking van 32 dae in Drie Riviere. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Venter en Janse van Rensburg gaan hulle hierdie poging om los te breek van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit met alle mag en mening dryf.

Rdl. Salome Janse van Rensburg van Risiville.

“Dit gaan nie oornag probeer nie. Dit is ’n langtermyn proses en vir dit om te gebeur benodig ons die steun van inwoners. Daar mag ook teenkanting wees,” sê Janse van Rensburg.  

Venter en Janse van Rensburg sal Saterdag vanaf 08:30 by River Square wees (tussen Pick n Pay en Woolworths) waar inwoners ’n petisie kan teken.

Inwoners wat meer hieroor wil uitvind kan Venter (raadslid vir Drie Riviere in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit) by 082 331 8111 of Janse van Rensburg (raadslid vir Risiville in die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit) by 082 212 4520 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button