Hulde aan Vereeniging se sportlegendes gebring
VEREENIGING. – Wat het die meesterskampioen Charl Schwartzel, krieket se Morkel-broers, Albie en Morné, die rugbylegende Gerald Bosch, die Springbokflank Francois Pienaar, die slot Bakkies Botha, die krieketspeler Tertius Bosch en die legendaries fietsryer, wyle Ertjies Bezuidenhout, almal in gemeen? Hulle was almal op die een of ander wyse by sport in Vereeniging betrokke. Dit …
VEREENIGING. – Wat het die meesterskampioen Charl Schwartzel, krieket se Morkel-broers, Albie en Morné, die rugbylegende Gerald Bosch, die Springbokflank Francois Pienaar, die slot Bakkies Botha, die krieketspeler Tertius Bosch en die legendaries fietsryer, wyle Ertjies Bezuidenhout, almal in gemeen?
Hulle was almal op die een of ander wyse by sport in Vereeniging betrokke.
Dit is maar net ‘n paar van die kleurvolle karakters van Vereeniging wat in die laaste paar dekades op die sportveld presteer het. Die lys name word soos wat die jare aanstap, al hoe langer.
Die Vereeniging Sport Klub het Saterdag, 1 Mei amptelik ‘n museum by die Dick Fourie-klubhuis geopen wat hulde bring aan hierdie sportlegendes wat Vereeniging hul eie kan noem.
Die museum bevat geraamde foto’s van verskeie sportsterre, trofeë, krieketkolwe en sporttruie wat deur van die stad se legendariese sportsterre gedra is.
Die sportmemorabilia sal voortaan teen die mure van die klubhuis by Dick Fourie uitgestal word om sportmanne en vroue te herinner aan die groot sportsterre wat hul tande hier in die Vaaldriehoek geslyp het.
Volgens Joe Viljoen, president van die Vereeniging Sport Klub, gaan dit daaroor om erkenning te gee aan sportlegendes van Vereeniging se prestasies. Dit sluit sportlegendes vanuit die Vereeniging Sport Klub sowel as Vereeniging-dorp in.
“Uit ons sportgeledere het daar al baie legendes voorgekom. As ons dink aan rugby, ons nasionale sport, was daar vyf manne wat uit ons gebied kom wat voor gedraf het vir die Springbokspan as kaptein,” vertel Viljoen.
Waarskynlik die bekendste van hierdie Springbokkapteins is Francois Pienaar wat in 1995 die eerste Springbokkaptein geword het om die Webb Ellis-trofee te lig. Pienaar is in 1969 in Vereeniging gebore.
“Vereeniging spog ook met drie Suid-Afrikaanse Protea-krieketspelers (die twee Moerkel-broers, Albie en Morné Morkel en wyle Tertius Bosch).
“Ons het sokkerkapteins voortgebring. Ons het ook Suid-Afrikaanse kampioene in kegelbal, asbaan-motorfietswedrenne en verskeie ander,” vertel Viljoen.
* Die opening van die sportmuseum is byna ontspoor toe inbrekers Dinsdag, 27 April by die klub ingebreek het en drank, kos, glase en trofeë wat meer as 50 jaar oud is, gesteel het (volledige berig op bl. 5).
Die inbrekers het toegang tot die klubhuis verky deur ses gate in die dak te sny. Nadat die klubhuis opgeruim is, is daar besluit om met die opening voort te gaan.
