Local newsNews

Midvaal is aangewys as Beste Munisipaliteit in Gauteng

Die nuus dat Midvaal ʼn 7de skoon oudit ontvang het is verlede week versterk deur die nuus dat Midvaal die beste munisipaliteit in Gauteng is en onder die top vier in Suid-Afrika resorteer

MIDVAAL HOOFSWEEP RAPPORT – No. 19 27-04-2021

Deur raadsheer Phil C Pretorius – DA Hoofsweep Midvaal Plaaslike Munisipaliteit  

Die nuus dat Midvaal ʼn SEWENDE (7de) skoon oudit ontvang het is verlede week versterk deur die nuus dat Midvaal die BESTE MUNISIPALITEIT IN GAUTENG is en onder die top vier in Suid-Afrika resorteer, aldus Ratings Afrika.

In die akademie lui die gesegde dat jy enige iets met statistiek en navorsing kan bewys. Om die navorser, navorsingsproses en metodiek dus te evalueer is van kardinale belang. Ratings Afrika is ‘n onafhanklike agentskap wat in 2007 die regeringsevaluasies van CA-Ratings oorgevat het toe dit aan Moody’s verkoop is. Hulle spog met meer as 30 jaar se ondervinding in die lewer van hierdie klas evaluasies en ongeveer 150 jaar se gesamentlike ervaring van die evaluasiespan (www.ratingsafika.com).

Hulle evalueer jaarliks die 100 grootste munisipaliteite in die land asook die Metros. Hul Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) evalueer o.a.: operasionele prestasie, bates- en lastebestuur, begrotingspraktyke en likiditeit (www.ratingsafrika.com).

Ratings Afrika definieer finansiëlestabiliteit as die vermoë om dienste te lewer, infrastruktuur te ontwikkel en onderhou, asook die kapasiteit om finansiële skokke (bv.: grendelstaat) te kan absorbeer. Die faktore wat volgens hulle die stabiliteit van munisipaliteite beïnvloed is o.a.: vaardighede, ervaring, finansiële dissipline, kwaliteit van die bestuurspan en ʼn sterk gegronde politieke leierskap. Midvaal het 70% vir hierdie evaluasie verdien en die top munisipaliteit in SA, Mosselbaai, het 74% verdien.

Dit is noemenswaardig dat die top vyf munisipaliteite in die land volgens Ratings Afrika se verslag wel deur die Demokratiese Alliansie regeer word. Dit spreek van ʼn nasionale waardesisteem van deursigtige bestuur en aanspreeklikheid wat duidelik deurskemer. Behalwe vir Midvaal, is al hierdie munisipaliteite in die Weskaap.

Dit maak sin dat die Weskaap wat ook as provinsie deur die DA regeer word die beste ondersteuning aan hulle munisipaliteite kan lewer. Die feit dat Midvaal onder ʼn ANC provinsie steeds hierdie gesogte lys kan haal is uitsonderlik. Dit tower hersenskimme op van wat in Gauteng moontlik kan wees as die DA die provinsie kan wen in 2024.

Trotse Midvaal Groete  

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App        

Foto onder: Raaadsheer Phil C. Pretorius.

**********************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button