Nuwe skoolhoof vir Lumiére Primêr
Baie geluk aan mnr. Lihan Kriel wat as hoof van die Lumiére Primêre Skool in Vaalpark aangestel is nadat hy 'n jaar en 'n half in die pos waargeneem het.
VAALPARK. – Daar is groot opgewondenheid in Lumieland nadat die skool gehoor het dat hul waarnemende hoof, Mnr. Lihan Kriel as hoof aangestel is.
Lihan het die afgelope jaar en ‘n half in die pos waargeneem. Terwyl hy op 17 Mei die nodige papierwerk by die Departement van Basiese Onderwys gaan afhandel het, het sy personeel gewerskaf om seker te maak sy aanstelling word behoorlik gevier.
Daar was geel ballonne op sy lessenaar en op die kantoordeur is ‘n boodskap van gelukwensing aangebring. Lihan moes eers ‘n geel lint sny, wat voor die ingang gespan was, voordat hy amptelik as hoof die kantoor kon betree.

Hy en sy vrou, Olga, is deur die skool se leerlingraad ingewag en na die afdak begelei waar die personeel gewag het om ‘n heildronk op hul nuwe hoof te drink.
Die Departementshoof: Grondslagfase, Darina Cilliers, het namens die personeel die hoof toegespreek. Sy het destyds by Leeuspruit Primêr skoolgehou toe Lihan sy eerste onderwyspos daar aanvaar het. “Hy het voor my oë grootgeword”, het sy trots gesê.

Sy het Lihan met drie woorde opgesom, naamlik deursettingsvermoë, geloof en integriteit. “Hy het die afgelope 18 maande in die pos waargeneem en sy beste gegee. Sy geloof het my opgeval. Hy het van die begin af geglo hy sal die pos by Lumiére kry en hy het. Lihan wil hier wees. Ek glo hy gaan die skool nog na groot en nuwe hoogtes neem.”
Alhoewel die aankondiging eers op 17 Mei gemaak is, is hy amptelik van 1 Mei 2021 in sy nuwe posisie aangestel.
