Kontaksport met onmiddelike effek gestaak
Die departement van basiese onderwys sê kontaksport by skole word met onmiddelike effek gestaak. Dit is in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te keer.
Die besluit is vanoggend tydens ’n virtuele vergadering van die raad van onderwysministers geneem.
Nie-kontaksportsoorte kan voortgaan mits daar voldoen word aan sosiale afstand en higiëne en veiligheidsmaatreëls in plek is.
Volgens die departement van basiese onderwys het sportaktiwiteite in die laaste week van die eerste skooltermyn bygedra tot uitbrekings van die koronavirus in Gauteng.
In die tweede termyn het dit glo ook toenemend bygedra tot die verspreiding van die Covid-19-virussiekte.
“Dit is duidelik dat kontaksporte steeds bydra tot die verspreiding van die Covid-19-virussiekte ten spyte van veiligheidsmaatreëls wat in plek is vir die beperking en van die versreiding van die virussiekte.”
“Weens die uitbrekings in Gauteng wat verband hou met skoolsport-aktiwiteite en die algehele toename in Covid-19-gevalle in gemeenskappe regoor die land het die reakiespan vir uitbrekings van Covid-19 besluit dat die risiko eenvoudig te groot is om kontaksporte toe te laat.”
“Alle kontaksporte word dus met onmiddelike effek gestaak,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.
