Vaalpark Primêr op ‘n beroerte bewusmakingsmissie
Vaalpark Primêre Skool is deel van die wêreldwye beroerte bewusmakingveldtog, FAST HEROES.
VAALPARK. – Wat maak jy as iemand ‘n beroerte kry? Wat is die simptome en hoe kan jy help? Die grondslagfase leerders by die Vaalpark Primêre Skool kan al van hierdie vrae beantwoord.
Die skool is een van die eerstes in Suid-Afrika, en die eerste in die Vaaldriehoek, om die FAST HEROES beroerte bewusmakingsveldtog te loods. Klasse word oor vyf weke aangebied in samewerking met die Angels Inisiatief en FAST HEROES.

Dis deel van ‘n wêreldwye beroerte bewusmakingsprogram wat daarop gemik om ‘n miljoen kinders te leer hoe om ‘n held/heldin te wees vir die groot helde in hul lewens, hul oupas en oumas.
Renathe van der Merwe, ‘n beroerte konsultant van die Angels Inisiatief, sê die FAST HEROES program is ontwikkel om kinders bewus te maak van die simptome en tekens van beroerte. “Baie kinders bly na skool by hul grootouers of ander ouer mense en daarom is dit belangrik dat hulle die tekens van ‘n beroerte sal kan herken en weet watter nommer om te skakel vir hulp”, het sy gesê.
Die program is deur die Universiteit van Macedonia ontwikkel en word onderskryf deur onder andere die Wêreld Beroerte Organisasie. Die woord FAST staan vir Face, Arm, Speech en Time.
Elkeen van die woorde verteenwoordig iets waarna opgelet moet word wanneer iemand ‘n beroerte kry. Kinders word ook die internasionale noodnommer, 112, geleer wat hulle moet skakel sodra hulle enige van die simptome erken.
Skole kan maklik deel van die beweging word deur op die FAST HEROES webtuiste te gaan registreer. Die kinders word ook in die klasse aangemoedig om hul ouers en grootouers van die program te gaan vertel.
Ouers kan dan ook hulself en hul kinders op die webtuiste registreer waar hulle dan toegang tot verdere inligting, videos en speletjies sal kry. Daar is selfs ‘n geleentheid om deel te word van ‘n poging om ‘n wêreldrekord te breek.
Elkeen van die klasse wat by die skool aangebied word, sluit ook video’s in en ‘n spesifieke aktiwiteit. So het Vaalpark Primêr se leerders verlede week maskers gemaak wat hulle gedra het om te wys hulle is ook Super Helde wat lewens kan red. Die kinders het die eerste les baie geniet soos duidelik uit hul foto’s gesien kan word.
Welgedaan aan Vaalpark Primêr wat die leiding geneem het met hierdie belangrike bewusmakingsveldtog in die Vaaldriehoek. Ander skole kan gerus hul voorbeeld volg. Meer inligting by www.fastheroes.com of die facebookblad, @FastHeroesSouthAfrica.

