Toename in Sedibeng se gevalle wek kommer
Die aantal bevestigde gevalle in Sedibeng het in ‘n 14-dae periode met meer as 20% toegeneem.

Eerste gepubliseer in Vaalweekblad se uitgawe van 19 Mei 2021
Suid-Afrika se minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het pas aangekondig dat Sedibeng “onder waarneming” geplaas is as ‘n Covid-19-brandpunt. Dit is weens die vinnige toename van positiewe gevalle in dié distriksmunisipaliteit.
Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit is oorhoofs oor die munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi.Mkhize het in ‘n mediaverklaring gesê hoewel ‘n toename in Covid-positiewe gevalle die afgelope maand in feitlik al Suid-Afrika se provinsies aangemeld is, wek sekere distrikte soos Sedibeng in Gauteng, besondere kommer. Die aantal bevestigde gevalle in Sedibeng het in ‘n 14-dae periode met meer as 20% toegeneem.
Volgens die nasionale gesondheidsdepartement se statistiek wat Saterdag, 15 Mei bekendgemaak is, is 96 nuwe gevalle in die voorafgaande twee weke in Emfuleni aangemeld, 13 in Midvaal en 5 in Lesedi. In totaal het 728 mense reeds sedert die begin van die Covid-pandemie in Emfuleni weens die siekte gesterf, 123 in Lesedi en 69 in Midvaal.In totaal het meer as 1 590 000 mense in Suid-Afrika reeds sedert Maart 2020 die siekte opgedoen en meer as 54 620 het tot op datum daaraan gesterf.
Mkhize sê hoewel die getal nuwe bevestigde gevalle relatief laag is, moet die beduidende persentasiesprong as ‘n ernstige waarskuwing beskou word. Hy sê voorts dat alle inwoners van Suid-Afrika ‘n rol kan speel om die verspreiding van die siekte te beperk en te voorkom dat dit in ‘n volwaardige derde golf ontaard.
“Gaan voort om jul maskers te dra, ontsmettingsmiddels te gebruik en byeenkomste waar baie mense saamdrom, te vermy,” is sy raad.Mkhize het Vrydag in ‘n onderhoud met SABC Morning Live gesê dat ‘n strenger inperking moontlik oorweeg sal moet word om die toename in Covid-19-gevalle te beveg.
Die regering het intussen aangekondig dat die huidige nasionale inperking tot 15 Junie verleng is.

****************************************************************************************************************
