Local newsNews

Tronkstraf of R20 000 boete vir onwettige vullisstorting

Dit het by baie inwoners die norm geword om vullissakke sommer iewers op ‘n sypaadjie of middelmannetjie neer te gooi

Cobus Cato van die Vryheidsfront Plus skryf:

Inwoners vra gereeld wat ‘n munisipale bywet is? Soos reeds in ‘n vorige skrywe genoem, is munisipale bywette die wette wat deur die raad van ‘n munisipaliteit bekragtig is om die sake en dienste van ‘n munisipaliteit in ‘n bepaalde gebied te reguleer.Vandag word hier spesifiek gekyk na die bywet rakende onwettig storting (oftewel dumping).

Dit is verstommend dat baie van ons inwoners net geen agting het vir die area/omgewing waarin hulle woon nie. Dit het by baie inwoners die norm geword om vullissakke sommer iewers op ‘n sypaadjie of middelmannetjie neer te gooi op pad werk toe, en in sommige gevalle sommer op die hoek van ‘n straat te los.

Daardie sakke word uiteraard deur “herwinnaars” geskeur en die inhoud bly net daar op die grond lê, want dis mos nou niemand se gemors nie. Ek is ook van mening dat as elke inwoner net doen wat hy behoort te doen en voor sy eie erf skoonmaak en skoonhou, die leefwêreld van die omgewing drasties sal verbeter.

Die bywet wat vullisverwydering bepaal, spreek ook hierdie onwettige en ongemagtigde storting van vullis baie sterk aan. Soveel so dat as iemand gevang word wat dit doen, daar wetlik teen so ‘n person opgetree kan word en by skuldigbevinding, tronkstraf van hoogstens 24 maande of ‘n boete van hoogstens R20 000 opgelê kan word, of beide hiervan.

Hierdie skrywe is nie daarop gemik om mense aan te val nie maar eerder om inwoners bewus te maak daarvan om meer oplettend te wees en as sulke storting opgemerk word, ‘n foto van die oortreder te neem as dit moontlik is, vir moontlike vervolging. Dit sal die enigste manier wees om hierdie tipe optrede stop te sit en sodoende ons omgewing te probeer herstel tot dieselfde toestand wat ons in herinnering kan roep.

Ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om skouer aan die wiel te sit en te help om ons dorp weer leefbaar te maak. Daar is ‘n Engelse spreekwoord wat lui, “bad things happen when good people do nothing”.

Daar kan baie negatiewe reaksie hieruit voortspruit maar dit verander niks aan die wetgewing nie. Die regulasie wat vullisverwydering aanspreek, is op die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se webwerf beskikbaar en kan daar besigtig word vir meer inligting.

 

‘n Voorbeeld van die onooglike, onwettige vullisstorting wat toenemend in Vanderbijlpark se woonbuurte gesien word.

***********************************************************************************************************************

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button