Local newsNewsNews

Hennie en sy honde, goeie nuus, maar…

Dit gaan goed met Hennie en sy honde, maar die winter is hier. Hulp en donasies word dringend benodig.

VANDERBIJLPARK. – Die storie van Hennie Cronjé (65) en sy honde het vele mense se harte aangeraak. Vandag kan Vaalweekblad berig dat dit al effens beter gaan nadat donasies ontvang is.

Al die honde is nou gesteriliseer en word die week ontwurm. Die honde gaan ook teen bosluise behandel word.

Danielle van Rooyen van Vaal Pets sê hulle het ses komberse en hondebeskuitjies as skenking ontvang wat hulle reeds aan ‘n dankbare Hennie oorhandig het.

Daar is ook net oor die R3 200 van verskeie donateurs in Vaal Pets se rekening inbetaal. Daarmee is daar al van die benodighede begin aankoop om die stukkie aarde waarop Hennie bly te omhein.

Waar moontlik gaan hul probeer om van die huidige heining se draad en pale (wat plek-plek platgedruk en geroes is weens die vloed in Januarie) weer te gebruik.

Die plan is om ‘n heining op te sit wat veiliger vir Hennie en die honde sal wees, maar wat ook sal keer dat die kleiner honde nie kan uitkom nie.

Danielle sê hulle wil ook graag ‘n kleiner kamp binne die erf span waar die twee groter honde, Lummel en Ouvrou, in vrede kan bly.

Die karavaan waar Hennie en die honde bly. Foto: @Vaalpets Facebook

Alhoewel die honde rond en gesond is, is Hennie se eie situasie benard. Hy woon op iemand anders se kleinhoewe buite Vanderbijlpark.

In ‘n ou karavaan, sonder elektrisiteit, warm water of ‘n toilet. Daar is nie eens ‘n put toilet op die werf nie. Hy maak van ‘n emmer gebruik.

Daar is slegs een kraan waar hy en die honde darem vars water kan kry. Hy het ook net ‘n primus stofie waar hy vir homself op kosmaak.

Enige besigheid of organisasie wat kan help sodat Hennie warm water, ligte en ‘n toilet kan kry, kan vir Danielle skakel by 082 650 6011.

Almal in die omgewing ken hom as ‘n groot diereliefhebber. Hy is ook die een wat geroep word as iemand ‘n slang op ‘n werf verwyder wil hê.

Hennie is voorwaar ‘n “Dr. Dolittle” wat ‘n besonderse slag met diere het. Sy diere (dis nou die 14 honde, maar daar is drie wilde katte ook) se kos word elke maand gekoop voordat hy enigsins daaraan dink om iets vir homself te kry.

Elkeen van sy honde het ‘n spesiale plek in sy hart en elkeen het ‘n storie. Van hulle het hy as verwaarloosde, baie bang geraamtes langs die pad gekry, ander is vir hom in bokse aangedra.

By hom kry elke weggooi hond ‘n identiteit, genoeg kos en baie liefde.

Danielle het op Vaal Pets se facebook blad ‘n lys van benodighede asook ‘n bankrekening nommer geplaas waar mense geld kan deponeer.

Hennie en sy honde. Elkeen het ‘n spesiale plek in sy hart. Foto: Gerda Bruinette

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button