Local newsNationalNews
Bejaardes ontvang Covid-entstof
Inwoners van die Drie Riviere Aftreeoord het Dinsdagoggend die geleentheid gekry om hul inenting teen die Covid-19-virussiekte te ontvang.
VEREENIGING. – Die inentings vorm deel van die tweede fase van die regering se inentingsveldtog wat op 17 Mei afgeskop het, waartydens landsburgers wat ouer as 60 is, voorkeur kry.
Werkers van die gesondheidsdepartement het die ouetehuis besoek om die Pfizer-entstof toe te dien.
Volgens Gerrie Hadders, voorsitter van die Drie Riviere Aftreeoord se bestuurskomitee, hoop hulle om sowat 400 van die oord se 650 inwoners teen die virussiekte in te ent om hul teen Covid te beskerm.

Dit is nie verpligtend nie, maar oues word aangemoedig om die entstof te ontvang, aangesien hulle in ‘n hoërisikogroep is en om hul immuunsisteme meer weerstandig teen die virus te maak.
Die entstof werk deur die liggaam te help om die Covid-19-virus te erken en leer dan die liggaam hoe om dit te beveg.

Willem Jacobus Nel, ‘n inwoner van die Drie Riviere Aftreeoord en een van die bejaardes wat Dinsdag ingeënt is, sê die inenting het vinnig gegaan en was nie te seer nie.
“Ek het dit nie eers gevoel nie,” vertel hy. Hy meen dit is elkeen se plig om teen die Covid-19 virussiekte ingeënt te word.
Die derde fase van die regering se inentingsprogram sal fokus op die inenting van 22.5 miljoen volwassenes.
Die doel is om teen die einde van 2021 die bevolking immuun te maak teen die Covid-19-virussiekte.
Om hierdie doelwit te behaal sal tussen 250 000 en 300 000 mense per dag ingeënt moet word.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
