Dit was 1988. Ek was in standerd 9. My niggie het in Johannesburg gewerk en ‘n woonstel in Hillbrow gehuur.
Haar ouer suster het in Vereeniging gewoon en gewerk. Gaan kuier ons by Anneke in Hillbrow.
Daardie jare was Hillbrow kosmopolitaans-anders as Vanderbijlpark. Anders maar fassinerend lekker.
Almal het in die straat voor die woonstelblok gestop. So ‘n stewige afdraande na die ingang toe.
Nou kyk, een ding moet jy verstaan, was ons drie saam, het daar altyd iets buitengewoon gebeur.
Vroeg die oggend het Anneke al vir die eerste opwinding gesorg. Daardie jare kon sy ure voor die spieël spandeer met die krultang in die hand.
Gaan Google gerus haarstyle uit die 80’s, dan sal jy verstaan.
Die oggend sukkel sy weer met haar reguit hare wat nie na wense wil hoogspring, krul en wip nie.
Die volgende oomblik is daar ‘n blou blits, of was dit ‘n vlam? Anneke skree, laat los die krultang en spring amper oor die tafel.
Ek en Bessie begin lag, eers van skok en toe van pure verligting.
Sy is okay, net so ‘n vaal swart streep oor haar arm. Is net die krultang wat nie meer tekens van lewe toon nie.
Uiteindelik is ons gereed en by die woonstel uit. Bessie se Corolla het so derde van voor af teen die afdraande geparkeer gestaan.
Die motor het al ou myle gemaak en het maar sy skete gehad.
Een daarvan was dat die deur aan die passasierskant voor nie meer kon oopmaak nie.
Ek is agter in, maar Anneke moes so via die bestuurder se kant oorklim.
Dit was so met die oorskuif dat die motor skielik in beweging gekom het.
Bessie, wat nog buite gestaan het, begin skree en probeer sommer hier aan die deur hang in ‘n poging om die motor te stop.
“Waahhhh! Stop die ding,” skree Anneke wat toe nog nie ‘n behoefte ontwikkel het om self te bestuur nie.
“Trek op die handrem!,” raas haar ousus van buite af.
“Waar is die handrem?,” wil Anneke benoud weet. Die volgende motor se agterkant kom vinnig nader.
“Jy sit op die ding!,” koor ek en Bessie saam.
Net voor ons die ander motor tref, kry Anneke die handrem opgetrek.
Terselfdertyd los Bessie die deur, spring in en maak seker sy trap die rempedaal raak.
Ek weet dit kon ‘n groot gemors en baie skade afgegee het, maar dit het nie.
Met die handrem behoorlik opgetrek, het die drie van ons gelag dat die trane loop.
Gelukkig was dit Hillbrow in die 80’s, niemand het ons snaaks of skeef aangekyk nie.
