News

Huisroof: Pa in bobeen gewond, Ma en dogtertjies kruip weg

Raadsheer Phil Pretorius van Midvaal-munisipaliteit vertel van inwoners se skok-ervaring en GPF se waardevolle rol in noodsituasies

Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, vertel hier van ‘n onlangse huisrooftog in Meyerton waartydens die pa van die huis geskiet is en die ma en haar dogtertjies vir die rowers weggekruip het. Hy vertel ook van die groot rol wat die GPF in sulke noodsituasies speel.

Ons leef in moeilike tye. Behalwe vir die mediese en ekonomiese uitdagings van ons tyd is daar ‘n ander pandemie wat ons moet beveg, naamlik MISDAAD.

Ons doen reeds baie om onsself te beveilig deur alarms, CCTV kameras, diefwering en heinings, honde en wapens. In onderhoude met misdadigers het hul bevestig dat al die bogenoemde, veral klein honde in die huis, hulle wel twee keer laat dink, maar nie gaan keer nie.

Vir díe rede het gemeenskappe hulself begin mobiliseer deur Gemeenskapspolisiëringsforums (GPFs) te stig. Die forums is geaffilieer met die SAPD en opereer volgens spesifieke reëls en regulasies met baie spesifieke opleiding en mandate. Dit bestaan in totaliteit uit vrywilligers uit die verskillende gemeenskappe. In Midvaal is ‘n hele aantal GPF komitees of -blokke, maar ook ander bewegings soos buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye.

In sekere areas sukkel die GPFs om van die grond af te kom en wanneer misdaad daar tref, is daar gewoonlik ‘n klein oplewing. In areas waar die GPF baie aktief en sterk is, is daar volgens jare se statistiek aansienlik minder misdaad. Nou hoor ek jou vra wat dan as ons hierdie GPFs het en dit stop nie die misdaad in totaliteit nie? Wel dit is maklik: jou lewe kan afhang van die reaksietyd van jou bure en gemeenskap in ‘n aanval.‘n Gesin van Meyerton, Uitbreiding 4 is onlangs om 19:45 in hul huis aangeval. Die straat en die erf is helder verlig, die sypaadjies is skoon gesny en die huis het veiligheidshekke en diefwering met 1.8 meter (6 voet) mure reg rondom.

Daar is ongelukkig altyd ‘n swak punt in jou sekuriteit, al is dit dan wanneer jy by die huis kom en die deur oopsluit. In hierdie geval is die pa in die bobeen gewond, waarna die ma en twee dogtertjies kon wegkruip en hulp ontbied. Binne minute was die GPF op die toneel en is binne sekondes deur die bure en sekuriteitsmaatskappye ondersteun. Daar is ‘n sterk vermoede dat hierdie “first responders” die rowers die skrik op die lyf gejaag het en verdere geweld in die huis voorkom het.

‘n GPF patrolleerder het agter die ontsnapvoertuig aangejaag en beskrywings en nommerplate bekom. ‘n Ander het die huis beveilig sodat die derde een mediese hulp aan die eienaar kon verleen. Die dame en die kinders is na veiligheid geneem en die ambulans kon die gewonde eienaar relatief vinnig by die hospitaal besorg waar hy ortopediese chirurgie ondergaan het.

Intussen trek die kring nouer om die verdagtes a.g.v. die insette van die GPF, CCTV kameras en die noukringstraatkameras in die wyk wat deur die GPF en Midvaal Munisipaliteit opgerig is. Die werk van die GPFs is onmiskenbaar belangrik en red lewens. Hulle kan egter nie bestaan sonder jou ondersteuning, donasies en patrollering nie.

Inwoner Alf Thomson, wat die lawaai tydens die roof gehoor het en gaan ondersoek instel het, getuig dat hy nie besef het wat die GPF alles doen en vir die gemeenskap beteken nie. Alf se lewe is direk bedreig en hy moes oop en bloot in die straat voor sy huis in die loop van ‘n wapen vaskyk. Hy sê  dat hy opnuut respek en bewondering vir die GPF, ons gemeenskap en bure gekry het vir hul vinnige en sinvolle optrede. Volgens Alf het hy die volgende dag by die GPF aangesluit en hy raai elke huishouding aan om so gou as moontlik dieselfde te doen.

Raak vandag nog betrokke by jou plaaslike GPF om jou veiligheid op te skerp en jou medemens by te staan.

Meyerton se inwoners kan die Meyerton GPF-voorsitter kontak: – Rudolph de Wet: 082 532 3557.

Die Midvaal DA-verskil:

Midvaal het oor die laaste vyf jaar meer as R9 miljoen se kameras, radio’s, nagsigkameras, donasies en infrastruktuur aan die GPFs in Midvaal geskenk.

  • Die Sparks-gesin van Blok 4 wil graag die GPF bedank vir hul vinnige reaksie, hulp en opvolg tydens hierdie traumatiese ervaring.

 

Trotse Midvaal groete.

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

 

***************************************************************************************************************

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button