Hartseer realiteit: DBV moet 800 diere per maand uitsit
"Dit een van die DBV-personeel se hartverskeurendste take is om te bepaal watter diere van kant gemaak moet word en watter vir nog ‘n rukkie kan leef."
Talle diereliefhebbers is briesend nadat foto’s van meer as 100 dooie diere wat op ‘n stortingsterrein in Redan afgelaai is, deur ‘n leser, Cobus de Wet, op Facebook geplaas is.
Die foto’s wys dat sommige karkasse in plastieksakke toegemaak was. Ander se koppe en lywe was sigbaar waar die sakke oopgegaan of geskeur het.
“Is daar enige manier hoe ons duidelikheid kan kry oor waar hierdie arme diere vandaan kom sodat die skuldige party vervolg kan word? Ons betaal baie geld om ons troeteldiere so genadig as moontlik te laat uitsit. As iemand hierdie diere op ‘n stortingsterrein afgooi om verassingskoste te spaar, is dit onverskoonbaar,” skryf Cobus.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Vereeniging en Vanderbijlpark het dadelik toegegee dat van die karkasse inderdaad diere is wat deur hulle uitgesit is. Van die karkasse kom ook van sekere veeartse in die omgewing.Senior inspekteur Marlien de Klerk, bestuurder van die DBV-takke in Vanderbijlpark en Vereeniging, verduidelik dat die plaaslike munisipaliteit weekliks karkasse van diere wat uitgesit is of aan natuurlike oorsake dood is, by die DBV en plaaslike veeartspraktyke oplaai en na stortingsterreine neem. Daar word dit volgens omgewingswetgewing en standaardprosedure met kalk bedek en in ‘n sloot wat gegrawe is, begrawe.
“Op die spesifieke dag wat die foto’s geneem is, was daar nog nie ‘n nuwe sloot gegrawe nie, wat beteken het dat die munisipaliteit die dooie diere nie dadelik kon begrawe nie. Ons was onbewus van hierdie situasie totdat foto’s later die dag op sosiale media versprei is,” sê me. De Klerk.
Ontstoke diereliefhebbers was egter nie net kwaad omdat die diere nie veras of begrawe is nie, maar ook omdat so baie diere in een week van kant gemaak is. Sommige Facebook-kruisvaarders het nie geskroom om DBV-personeel as wreed en harteloos uit te kryt nie.Vaalweekblad, wat gereeld met dié personeel skakel, weet dat dit onwaar is. Min diereliefhebbers sal bereid wees om in hul skoene te staan.
Me. De Klerk verduidelik dat dit een van die DBV-personeel se hartverskeurendste take is om te bepaal watter diere van kant gemaak moet word en watter vir nog ‘n rukkie kan leef.
“Ons moet minstens 800 diere per maand by ons DBV uitsit. Dit is omdat daar eenvoudig te min geld en te veel rondloper- en ongewenste diere is. Mense laai hul honde of katte by die DBV af as hulle nie meer die diere wil hê nie, of laat hul diere aanteel omdat hulle nie gesteriliseer is nie,” sê me. De Klerk.
“Teen 800 dooie diere per maand, wat ook mense se troeteldiere insluit wat genadedood ontvang het of vanself dood is, sal die koste van een karkas die DBV ongeveer R95 per verassing kos. Dit beteken 800 x R95, dus R76 000 per maand, en R912 000 per jaar. Die DBV het eenvoudig nie soveel geld nie. Ons sukkel reeds om ons deure oop te hou en na lewende diere wat nog ‘n kans op aanneming het, om te sien.”
Sy sê die Covid-inperking en gepaardgaande ekonomiese insinking het veroorsaak dat aannemings met meer as 300% afgeneem het. In die 2020-boekjaar is 541 diere aangeneem maar in die laaste boekjaar kon daar net vir 163 diere nuwe huise gevind word.
Die munisipaliteit is primêr verantwoordelik vir rondloperdiere en vir die verskaffing van ‘n diereskut, maar het tans nie een nie, dus neem die DBV sulke diere op eie koste in. Geen dier mag weggewys word nie. Die DBV het ‘n tyd gelede probeer om ‘n sterilisasiefonds te begin om geld in te samel, maar dit was onsuksesvol omdat die publiek en sakegemeenskap eenvoudig nie meer geld het om bydraes te maak nie.
Die realiteit is dat die Vaaldriehoek se rondloperdiere wat by die DBV beland, ‘n beter kans op oorlewing sal hê as die publiek hul harte en beursies oopmaak. Oorweeg dit gerus om van die diere aan te neem, of maak ‘n skenking aan die DBV sodat meer diere langer versorg kan word.
Donasies kan inbetaal word in die volgende rekening: Vereeniging SPCA, ABSA Spaarrekening, 925 857 8888, Vereenigingtak, takkode: 632005. Skakel die DBV by (016) 422 1505 as jy op enige ander manier kan help.

**************************************************************************************************************
