Local newsNewsNews

Fritz Olivier – pastoor, skrywer, mens

'n Pastoriestorie - die boek trek die leser in tot binne die hart en kop van die skrywer.

VANDERBIJLPARK. – Fritz Olivier (54) se lewe het van sy kinderdae op ver en vreemde paaie geloop. Sy outobiografiese boek, ‘n Pastoriestorie, het so pas verskyn.

Daarin deel hy sy gedagtes, emosies, onthou oomblikke en al die kruispaaie waarop hy al in sy lewensreis beland het.

Hy pen selfs ‘n paar gedigte neer in ‘n poging om intense emosies vas te vang by die afsterwe van vriende en mense wat ‘n impak op sy lewe gehad het.

Die buiteblad van die boek, ‘n Pastoriestorie. Die ontwerp is verkry van ‘n oorspronklike waterverf skildery deur Marli van Wyk.

Die boek trek die leser in tot binne die hart en kop van die skrywer.

Die leser beleef saam met die skrywer sy donkerste en helderste oomblikke op sy lewenspad.

Daar is ook asem skep oomblikke wanneer humor en ‘n onverwagse lag-in-die-kerk-bui deurslaan.

Ek het Fritz by sy huis ontmoet waar hy aansterk na ‘n voetoperasie.

“Bunions. Dis geneties en ja, ek het op my dag heelwat marathons gehardloop en aan ysterman-kompetisies deelgeneem. Was seker ook nie goed vir my voete nie,” vertel hy.

Oor sy prestasies, hetsy sport of akademies, wil hy nie uitwei nie. “Ek doen alles in die ekstreem,” beduie hy oor ‘n beker koffie.

Presies in hoe ‘n mate hy alles tot die uiterste doen, verstaan ek eers toe ek ‘n Pastoriestorie lees.

Dis moeilik om die man wat so lekker kan gesels en lag te vereenselwig met die man in die boek wat gevoel het hy is ‘n nul op ‘n kontrak.

Nog minder met die jongman wat vir dae by ‘n spruit met alkoholvergiftiging gelê het.

Daar is nie meer ‘n teken van die skoolseun wat so geboelie is dat hy self ‘n boelie geword het nie.

Die algehele rebelsheid, aggressie en woede veroorsaak deur verwerping en molestering is weg.

Jare van dwelm- en drankmisbruik het ook nie sigbare letsels gelaat nie.

Wat wel by Fritz deurslaan is geloof en nederigheid.

Hy het ‘n hart vol liefde en trots vir sy vrou, Janine en sy twee kinders, Dean en Megan.

Vir sy aangenome dorp, Vanderbijlpark, waar hy nou al 13 jaar in die bediening staan, het hy baie deernis.

Die pastoriekind het ‘n pastoor geword.

Meer as dit, die verwerpte het ‘n omgee mens geword wat sonder oordeel en oor alle denominasies heen ‘n boodskap van hoop in ‘n hopelose tyd bring.

“Ek wil hê mense moet besef daar is hoop, maak nie saak van lewensomstandighede nie. Dis jou keuse of jy in jou omstandighede bly en of jy gaan begin leef. Dit is nooit te laat om te wees wat jy kan wees nie,” sê Fritz.

‘n Pastoriestorie kan by Janine Olivier by 082 332 3383 of Suzette Strydom by 073 265 3526 bestel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button