Buzz Lightyear wen elke keer
Oor Buzz Lightyear is daar al baie gelag in ons familie. Die groot lieg oor die 50% afslag het eers amper twee dekades later aan die lig gekom.
Dit was die 1990’s. Ek en Bessie het die Vrydagaand deur die winkels gedwaal.
Stap ons by ‘n speelgoedwinkel in en daar staan hy … Buzz Lightyear. ‘n Grote! Sy vlerke kan uitspring. Daar is liggies wat aangaan. Hy kan praat. Ons is in vervoering!
Was ons Toy Story aanhangers? Nee, maar op daardie stadium was Anneke (Bessie se sussie en my niggie) se kleuter mal oor Buzz Lightyear.
Onmiddellik duik twee probleme op. Anneke het ‘n verbod op verdere geskenke aan hom geplaas vir die jaar.
Dit was nadat ons bietjie oorboord gegaan het met speelgoed aandra en Anneke ‘n insae in ons finansiële welstand gehad het.
Wat ons by die tweede probleem gebring het. Buzz was nie goedkoop nie. Buzz was baie duur. Normale mense sou aanbeweeg het. Maar ek en Bessie … toe nou nie.
“Koffie,” sê ek.
“En ‘n hoofpynpoeier,” sê Bessie.
Ons gaan drink koffie. Gaan kyk weer na Buzz.
“Anneke gaan kwaad wees,” opper ek probleem een weer.
“Ek het nie genoeg geld oor op my kredietkaart nie,” raak Bessie probleem twee aan.
“Maar, sê nou maar ons gaan halfies,” waag ek ‘n idee. “Dan sê ons vir Anneke dit was op 50% afslag.”
Die oplossings daal te skielik op ons neer. “Koffie,” sê Bessie. “Dit raak laat. Sal ons nou of sal ons nou nie?,” Bessie is skoon bleek gedink.
“Dan moet ons gou maak, ” sê ek en sit my hoeveelste koppie koffie neer.
Die volgende oggend het ons vir Buzz in Kemptonpark gaan aflaai. Anneke was geskok, maar die kleuter was in sy noppies.
‘n Paar jaar later, met mediakaartjies in my besit, besoek ons elke aand die Pretoria Skou.
Eerste aand gewaar ons hom in een van die sale. ‘n Baie mooi marionet. Lyk soos Merlin van ouds.
“Anneke sal mal wees hieroor,” sê ons tegelyk. Maar die prys!
“Ons sal weer kom,” en ons gaan soek koffie.
Ons gaan kyk elke aand na die marionet. “Dis Buzz Lightyear van vooraf”, sê Bessie.
Die skou maak op ‘n Sondagaand klaar. Kort voor sluitingstyd koop ons die marionet.
“Ek wil Anneke se gesig sien as sy hom sien,” begin ek.
“Ja, maar Vrydag is nog ver,” sug Bessie.
“Maar, Kemptonpark is nie so ver nie,” waag ek dit.
“Ons werk môre,” sê Bessie.
Ons kyk vir die marionet. “Buzz Lightyear” sê Bessie en ons lag.
Ons stop om 21:30 voor Anneke se huis. Sy kry amper ‘n hartaanval. “Is iemand siek? Dood? Wat maak julle hier?”
“Buzz Lightyear,” sê ons en haal die marionet uit.
“Julle is gek,” sê Anneke maar haar gesig straal.
Meer as twee dekades later. Anneke het nog haar marionet. Ons lag steeds as iemand net Buzz Lightyear noem.
