Kleinseun samel geld in vir ouma Sannie (92) se operasie
Die geld sal aangewend word vir Ouma se mediese rekeninge sowel as vir haar vervoer tussen Frankfort en Vanderbijlpark vir opvolgondersoeke na die operasie
VANDERBIJLPARK. – “Ons ouma het vyf kinders grootgemaak, van wie sommige al oorlede is. Sy het deur die jare so baie vir ons gedoen dat ek graag iets vir haar wil teruggee.”
Só sê ‘n jong Vanderbijlparkse inwoner, Ben Marais, wat onlangs ‘n Back-a-Buddy rekening oopgemaak het om geld in te samel vir ‘n noodsaaklike oogoperasie vir sy 92-jarige ouma, mev. Sannie Bezuidenhout.
Mev. Bezuidenhout, wie se nageslag hoofsaaklik in die Vaaldriehoek woon, bly tans alleen in ‘n woonstelletjie in Frankfort nadat haar man in 2008 oorlede is.
“Ongelukkig het ons nie genoeg geld om vir ‘n operasie aan Ouma Sannie se oë te betaal nie, daarom vra ons mense wat dalk bereid is, om ‘n bydrae te maak. Die geld sal aangewend word vir Ouma se mediese rekeninge sowel as vir haar vervoer tussen Frankfort en Vanderbijlpark vir opvolgondersoeke na die operasie,” sê Ben.
Die lewenslustige Ouma Sannie doen nog haar huiswerk self en sy is ook lief vir skilder, maar haar oë begin nou so agteruit gaan dat haar lewensgehalte ernstig afneem.
Enigiemand wat die insameling graag wil ondersteun, kan meer hieroor lees op https://www.backabuddy.co.za/sannie-bezuidenhout of kontak Ben by 076 311 3888.
Mense wat graag bydraes wil maak, kan dit in die volgende rekening inbetaal: B.P. Marais, Capitec Spaarrekening: 1677344960. Verwysings: Ouma Sannie.

****************************************************************************************************************
