JP Nel kraai koning in die water
Sy ma noem hom ‘n gebore swemmer. JP sê swem is sy hartsport.
SASOLBURG. – Jean-Pierre (JP) Nel se oë blink as daar oor swem gepraat word.
Vandat hy die eerste keer op 5-jarige ouderdom met swemlesse begin het, wil hy niks anders doen nie.
Sy grootste droom is om Suid-Afrika eendag by die paralimpiese spele te verteenwoordig.

Op 21 jaar het hy ‘n magdom goue medaljes en bekers om te wys dat hy stadig maar seker besig is om sy droom te verwesenlik.
Hy kompeteer in die S14-kategorie. Hierdie kategorie groepeer swemmers saam wat ‘n stadiger reaksietyd het en wat sukkel om byvoorbeeld die volgorde van gebeure of patrone te herken of te onthou.
JP is onder meer aandagafleibaar en tas sensitief. Dit is een van die redes waarom hy swem so geniet. Dis nie ‘n kontaksport nie.
Sy ma, Joan Nel, sê sy het JP op aanbeveling van hul dokter destyds laat swemlesse neem aangesien hy ook ‘n asmalyer is.
JP het die swemlesse baie geniet, maar het nie daaraan gedink om kompeterend deel te neem nie.
In 2015 het hy die Fakkel School of Skills se swemspan gehaal. “Ons was baie verbaas toe hy daardie jaar sy Vrystaat kleure gekry het en goud in die aflos by die SA’s verower het,” onthou Joan.
In 2016 het JP weer die Vrystaat by die SA’s verteenwoordig en die keer met twee silwer- en ‘n bronsmedalje huis toe gekom.
Daardie jaar is hy ook by die skool as swemmer van die jaar aangewys.
Die jaar daarna het hy by die Vrystaat interskole swemkampioenskappe geskitter, waar hy as die beste senior seun swemmer aangewys is en vir ‘n tweede keer as swemmer van die jaar by die skool aangewys is.
Na skool het hy besluit om hom op swem toe te spits. In 2018 het hy sy huidige afrigter, Benny Janssen van die Vanderbijlpark Titans Aquatics swemklub ontmoet.
Onder leiding van Benny het JP nie net as swemmer baie ontwikkel nie, sy selfvertroue het ook ‘n groot hupstoot gekry.
In 2019 het hy 10 goue medaljes by die EGA Summer Champs in Germiston losgeswem. Daardie jaar het hy gekwalifiseer om vir die eerste keer as senior by die SA’s deel te neem die volgende jaar.
Ongelukkig het die inperkings in Maart verlede jaar die SA’s in die wiele gery. Gelukkig kon hul weer in Augustus begin swem.
Sedertdien het hy aan verskeie galas deelgeneem. Aangesien sy ouers nie die byeenkomste mag bywoon nie, het sy afrigter sy steunpilaar geword.
Een van sy hoogtepunte was toe hy sy held, die Suid-Afrikaanse swemmer Douglas Erasmus, kon ontmoet.
oan beskryf JP as baie toegewyd en passievol oor sy sport. “Hy volg ‘n spesiale dieet en sal nie eens daaraan dink om te kul nie,” vertel sy.
“Ek drink selfs my tee sonder melk en suiker,” sê JP wat die meeste van die praatwerk aan sy ma oorlaat.
Verder oefen hy vyf dae per week en swem oor naweke galas.
Sy ma noem hom ‘n gebore swemmer. JP sê swem is sy hartsport.
Hy het reeds besluit die dag as hy nie meer kompeterend kan deelneem nie, wil hy ‘n swemafrigter word vir kinders soos hy.
“Ek wil vir mense wys ons kan ook ons drome laat waar word,” verklaar hy met oortuiging.
