Rolstoel-vriendelike speelgrond maak kinderharte bly
Niemand hoef meer net te kyk hoe ander swaai nie en draai nie. Welgedaan Eureka Skool!
VEREENIGING. – Die Eureka Skool het nou ‘n rolstoel-vriendelike speelgrond.
Spesiale speel apparaat stel die leerders nou in staat om nes al die ander te kan speel en te baljaar.

Daar is selfs ‘n laer stellasie soortgelyk aan die klim en klouter rame waar die leerlinge hulself met hul arms kan vorentoe trek terwyl hul nog in hul rolstoele sit.
Die speelgoed is ontwerp sodat dit wyd en stewig genoeg is om rolstoele met gemak te kan dra.
“Dit is verblydend om te sien hoe die kinders hierdie nuwe apparaat geniet.
“In die verlede, moes die leerlinge in rolstoele maar net rustig onder die bome sit terwyl die ander geswaai en gespeel het. Nou kan hulle ook saam speel en dit geniet.
“Van hulle voel nou vir die eerste keer hoe dit voel om op ‘n swaai te wees, in die rondte te draai of om op ‘n wipplank te bons,” vertel Annette Otto een van die skool se terapeute.
Dis nie net die leerlinge wat permanent in rolstoele is wat baat vind by die nuwe speelgoed nie.

Die leerlinge met serebrale gestremdheid kan ook nou makliker op hierdie apparaat speel as op gewone swaaie en rondomtalies.
“Al die beweging en sensoriese stimulasie is baie goed vir die leerlinge se ontwikkeling, maar eintlik wil ons net hê hulle moet lekker speel en sports hê.
“So hier en daar is ‘n leerder nog skrikkerig, maar die meeste begin sommer dadelik te lag die oomblik as hul op die speelgoed apparaat geplaas word,” vertel Annette.
Die nuwe apparaat is aangekoop met staatsbefondsing.
Die skool droom al langer as vyf jaar om hierdie spesiale speelgrond tot stand te bring.
As mens na die kinders se gesigte kyk, dan weet jy dit was alles die moeite werd.

