Vreedsame plaas in Vaaldriehoek word finale rusplek om op trots te wees
Vaaldriehoekse beesboer, Thabo Verster, het die behoefte raakgesien en omskep nou sy plaas, Uitgevallen, in ‘n hoëgehalte, boomryke begraafplaas
Om ‘n geliefde te begrawe is een van die pynlikste ervarings waardeur ‘n mens kan gaan. Dit is net normaal dat mens jou afgestorwe geliefdes in ‘n netjiese omgewing wil begrawe waar jy die graf of nissie agterna in veilige omstandighede kan besoek.
Die meeste munisipale begraafplase in die Vaaldriehoek is byna vol of reeds oorvol. Kritiek word ook gereeld gehoor oor die onnet en onveilige omstandighede daarvan. So, wat staan ‘n mens te doen?
‘n Vaaldriehoekse beesboer, Thabo Verster, het die behoefte aan ‘n netjiese en veilige begraafplaas raakgesien en omskep nou sy plaas, Uitgevallen, langs die R42-roete in Midvaal in ‘n hoëgehalte, boomryke begraafplaas waar mense hul geliefdes met ‘n geruste hart kan laat begrawe. Sowat 40 hektaar van die plaas se 86 hektaar is vir die begraafplaas opsygesit.
Die eerste grafte in die begraafplaas, wat naby Fourways in Drie Riviere geleë is, is reeds gevul. In die eerste fase gaan daar sowat 11 000 grafte beskikbaar wees, en oor die volgende 20 jaar sal nóg 60 000 tot 70 000 mense hier ‘n laaste rusplek kan vind.
“Ons doelwit is om ‘n deeglike diens en iets moois te gee aan mense wat hul geliefdes hier begrawe,” sê Uitgevallen Begraafplaas se bestuurder, mnr. Johan van Graan. “Dit word as ‘n ‘groen’ begraafplaas ontwikkel. Meer as 1 000 groot bome, struike en rankplante soos jasmyn word aangeplant, en bankies sal mettertyd opgerig word sodat mense hier kan kom sit en hul geliefdes se grafte in veilige omstandighede kan besoek. Doelgerigte instandhouding en sekuriteit sal deurgaans verskaf word.”
‘n Netjiese muur met nissies waar geliefdes se as veilig bewaar kan word, gaan mettertyd gebou word. Versoeke is reeds van diereliefhebbers ontvang vir graffies vir hul geliefde troeteldiere. Op die oomblik is dit nog nie deel van die beplanning nie, maar as die aanvraag groot genoeg is, sal dit mettertyd oorweeg word om ‘n aparte deel van die plaas hieraan af te staan, sê Johan.
Die koste van grafte vergelyk goed met dié van munisipale begraafplase (sowat R2 300 per graf).
Enkelgrafte is beskikbaar, sowel as dubbelgrafte bo-op mekaar. ‘n Gereserveerde graf kan ook teen ‘n koste langsaan ‘n ander graf bespreek word. Familiegrafte van vyf of meer kan ook teen ‘n verminderde bedrag gereserveer word.
Daar is ook afbetalingsmoontlikhede vir mense wat nou al grafte wil bespreek en dit oor ‘n tydperk wil afbetaal. Gesels gerus met Johan, die bestuurder, by 082 452 3467 of 074 421 5994 vir meer besonderhede.



**********************************************************************************************************

