Local newsNewsNews

Meer oor Meyerton se Chris in VSA en sy verlange na ‘n boeremeisie

Dié kampioen is tans woonagtig aan die kusstad van Santa Monica in Los Angeles en het alreeds kennis gemaak met bekende A-lys-akteurs soos Charlize Theron, Jennifer Garner, Mark Wahlberg en Toby McGuire.

Sewe jaar gelede het die professionele bokser en voormalige weltergewigwêreldkampioen, Chris van Heerden, sy tuisdorp Meyerton verruil vir die stadsliggies van Hollywood in die VSA. Op 33-jarige ouderdom vertel hy egter sy pad na sukses was met tye met duwweltjies besaai.

“Toe ek aanvanklik is die VSA gekom het, was alles onbekend en ek het ook maar gesukkel om werk te kry en kop bo water te hou,” vertel hy. Chris se professionele loopbaan het in 2006 afgeskop. Hy het vinnig as ’n top bokser van Afrika uit die stryd getree, wat hy daarna bewys het deur Suid-Afrikaanse én ABU-weltergewig-titels te verower.

In 2010 het hy egter sy eerste verloor ervaar in die stryd om die IBF Inter-Continental-ligte middelgewig-titel teen die Serviese Ivica Stevanovic. Dit het hom egter nie gekeer om sukses na te jaag nie en hy raap die IBO-weltergewiggordel voor mede Suid-Afrikaner Kaizer Mabuza weg.

Hy slaag daarin om sy gordel twee keer te verdedig, teen Sebastián Andrés Luján en Matthew Hatton. Gedurende die winter in 2013 besluit Chris om na die Verenigde State te verhuis.

“Omdat ek toe verhuis, was ek gedwing om van my status as die kampioen van die Internasionale Boksorganisasie afstand te doen.” Volgens hom was dit swaar, maar noodsaaklik om die weg na hoër eerbewyse te baan.

Chris vertel dat die grootste uitdaging egter was om staande te bly toe sy pa – die voormalige bokskampioen Daniël Christoffel van Heerden – in 2018 vermoor is.

“Ek wil graag my storie met mense deel om hulle te inspireer en te wys dat daar ’n blink toekoms op jou wag – mits jy bereid is om hard te werk en nooit op te gee nie,” sê Chris.

Chris “The Heat” Van Heerden se sosiale media profiele wemel van die Hollywood-bekendes waarmee hy skouers skuur – Bokser Frank Grillo, Kelly Osbourne, 50 Cent, Bradley Cooper, Michael B Jordan en Sylvester Stallone is maar net ’n paar van die beroemdes wat saam met Chris op foto’s pryk.

“Om ’n suksesvolle loopbaan te hê en ongelooflike mense daardeur te ontmoet is ’n groot voorreg waarvoor ek elke dag dankbaar is,” sê Chris. ‘Toewyding’ is ’n belangrike woord in sy woordeskat en hoop hy om binnekort sy droom te bewaarheid om ’n tweede wêreldtitel in te oes.

“Mens raak ook maar alleen en verlang na jou kultuur – so ek sal ook graag ’n boeremeisie wil ontmoet!” het hy laggend bygevoeg. Volgens hom is die kultuurverskil groot en hy sal dit geniet om Afrikaans te praat as hy na ’n lang dag afskakel. “Dan sal dit mos voel soos huis,” sluit Chris af.

* Uitgereik deur The Marketing Zoo

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button