News

Beskeie skoonheid van Vaal met titel verras

Daar is goeie gene in hierdie bene.

VANDERBIJLPARK – Vir die 17-jarige Délyn van Rooyen, ’n graad 11-leerling aan die Hoërskool Transvalia, het ’n eenvoudige besluit om ‘n kans te waag geëindig met twee titels en die geleentheid om Suid-Afrika aanstaande jaar in Orlando, Amerika, te verteenwoordig.

Délyn het op 27 September aan die Royal International Miss South Africa 2026-finaal in Pretoria by die Maslow Diamond Ballroom by Time Square deelgeneem.

Sy het in die Tiener-kategorie vir deelnemers tussen 16 en 18 jaar meegeding.

Sy is aangewys as tweede prinses en het ook die Royal Internasionaal Mej SA Rolmodel-titel in die Tiener-kategorie verower. Vir Délyn het die reis sonder groot verwagtinge begin.

“Ek het die kans gevat en besluit om in te skryf en te kyk waarheen die ervaring my sou neem,” vertel sy.

Sy het aanvanklik aan kompetisies begin deelneem omdat sy as mens wou groei en meer selfvertroue wou ontwikkel.

Haar mentor, Natasha Menino-Costa, was haar groot motiveerder van die begin af. Die kompetisie het verskeie afdelings ingesluit, waaronder persoonlike bekendstelling, onderhoudvoering, Fun Fashion en Evening Competition.

Daar was ook opsionele afdelings soos Purple Passion, Topmodel l en Gemakdrag. Die onderhoud was vir Délyn die grootste uitdaging.

Sy moes voor ’n paneel met onder meer Mev. Globe, Mrs South Africa en Mr World verskyn. “Dit was nogal senutergend om voor mense met soveel ervaring te verskyn. Maar dit was ook een van die dele waaruit ek die meeste geleer het, ” sê sy. Sy het haar voorberei deur onderhoudsvrae te oefen en aan haar loop te werk.

“Ek het probeer om myself so goed as moontlik voor te berei, maar ook om nie te vergeet om myself te wees nie.” Volgens Délyn het sy glad nie verwag om ’n titel te wen nie.

“Ek het net probeer om die ervaring te geniet en my beste te gee sonder om te veel oor die uitslag te dink.” Toe haar naam as tweede prinses aangekondig is, was sy oorstelp.

“Ek was so gelukkig en trots. Ek dink die eerste ding wat deur my kop gegaan het, was dat al my harde werk die moeite werd was.” Haar Rolmodel-titel beteken egter vir haar meer as net ’n kroon.

“Vir my beteken dit om ’n goeie voorbeeld vir ander te wees en om iemand te wees na wie jonger meisies kan opkyk.” Die titel bied haar ook die geleentheid om aanstaande jaar in Orlando aan ‘n internasionale kompetisie deel te neem. Délyn sê haar ma, Brigitte, haar ouma Hester Davis, en Natasha het ’n groot rol in haar sukses gespeel.

“Ek is regtig baie dankbaar vir hulle. Hulle het my aangemoedig en in my geglo.” Haar ma is ook haar grootste rolmodel. Brigitte is ‘n voormalige Mev. Suid-Afrika-semifinalis. So die appel val nie ver van die boom af nie.

Délyn van Rooyen

“Sy inspireer my ongelooflik baie. Sy verstaan hierdie wêreld en moedig my altyd aan om my eie pad te volg.” Benewens skoonheidskompetisies geniet Délyn cheerleading en gimnastiek.

Sy spandeer ook graag tyd saam met familie en vriende. Die ervaring het haar geleer om meer in haarself te glo. Vir Délyn is dit ‘n lewensreis. Dit gaan oor groei, selfvertroue en die geleentheid om die beste weergawe van haarself te word

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button