
Kyk ek is ‘n slegte verloorder. Maar ek kom vining oor my aanvanklike skok. Maar ek het die naweek weer gesien daar is geen politiek soos rugby politiek nie. Vandag is dit Hosanna en môre is dit die kruis. Ek skaam myself vir sommige Springbokondersteuners.
Dis ‘n verloortoets teen Australie. Ja, ons was hondsleg, maar het amper die wa deur die drif getrek. Ons is immers steeds bo-aan die wêreldranglys, spog met ‘n reeks oorwinning oor die All Blacks wat veronderstel is om vars in ons geheue te wees. Nie eers daarvan te praat dat ons aanstaande
Doer Onder ‘n derde opeeneenvolgende Wêreldbekertitel gaan najaag, maar nee, kom ons kruisig almal en wys vingers na Dr. Rassie Erasmus. Ons is boonop die enigste span ter wereld wat vier Wêreldbekertitels kon wen en die enigste span wat elke Wêreldbeker-eindstryd waarin ons gespeel het, kon wen.
Dis mos ‘n moewiese prestasie. Om teen Australie met vier punte te verloor is nie die einde van die wêreld nie.
Ek moet sê destyds se nederlaag teen Japan het baie meer seer gemaak as die ene. Daardie keer was dit senior spelers se slapgat houdings wat die kalf in die put laat beland het. Ja, Rassie het miskien Saterdag sy hand oorspeel, maar dit was nie apris nie.
Dis nie omdat hy of die spelers grootkop of arrogant was nie. There is method behind the madness. Met 13 veranderinge aan jou beginspan gaan jy moeilik een van die top spanne in wêreldrugby klop.
Hierdie was die laaste kans vir spelers soos Marco van Staden, Handré Pollard, Zachary Porthen, Herschel Jantjies en Aphelele Fassi en hulle het die toets gedop.
Veral Fassi se uurglas het uitgeloop. Na die toets weet die Springbok-afrigter en die rugbypubliek wie die beginspan moet wees. So warm en koud as wat Sacha Feinberg-Mngomezulu kan wees, bly hy talentvol.
Dit het hy Saterdag gewys. Met Manie Libbok in die groep kan Pollard moontlik in die slag bly, want in Cheslyn Colby is daar nog ‘n stelskopper. So wie weet?
In 2018 voor die Wêreldbeker-toernooi in Japan het almal hul Springbok-onderbroekies bevuil toe SA vir die eerste keer buite Europa teen Wallis verloor het.
Dit was juis André Esterhuizen se debuut vir die Bokke en Rassie Erasmus se eerste wedstryd as afrigter van die Springbokke. En surpise surprise, 13 Springbokke het hulle debuut in die toets gemaak. Mmm die getal 13 klink nogal bekend.
En wat het gebeur 518 dae later klop die Springbokke vir England met 32–12 in die Wêreldbeker-eindstryd om die William Webb Ellis trofee omhoog te hou.
So al wat ek sê is ontspan. Mens hoef nie van verloor te hou nie, maar liewe land, hou op om ‘n vloermoer soos ‘n kleuter te gooi.
Pappa Rassie weet wat hy doen! Die aanloop tot die toets met die hele Anele Madoda/André Esterhuizen-sirkus was ook nie aangenaam nie. So wat leer ons: moenie ou koeie opgrawe nie en moenie die baba met die badwater uitgooi nie!