VEREENIGING. – Die Vryheidsfront Plus het Saterdag na ‘n oorsigbesoek aan die Vereeniging-Kopanong Hospitaal, skok uitgespreek oor onaanvaarbare toestande by dié staatshospitaal.
Groot hoeveelhede mediese afval, wat vermoedelik met die Covid-19 virus besmet is, hoop op omdat die kontrakteur wat die verwydering moet doen, glo nie betaal word nie.
Die Gautengse departement van gesondheid skuld hom glo reeds sowat R16 miljoen.
Volgens Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor Gesondheid, sê daar is tydens die besoek ook op skokkende bewyse van die vermorsing van lewensnoodsaaklike Covid-19-toerusting, wat waarskynlik honderde miljoene rand gekos het, afgekom.
“Geboue wat opgerig moes word vir die behandeling van Covid-19-pasiënte staan half-gebou en verlate, met geen teken dat daar nog enige werk gedoen word nie. Personeel het aan die VF Plus gesê groot hoeveelhede nuwe, beskermende toerusting is verlede jaar reeds ontvang om gereed te maak vir die eerste vlaag Covid-19. Dit lê egter ongebruik en verlate in ‘n groot saal by die hospitaal terwyl Suid-Afrika nou reeds sy derde golf van Covid-19 binnegaan,” sê Van Staden.
“Dit is bekend dat gesondheidspersoneel gebuk gegaan het onder groot tekorte van veral beskermende toerusting en dat baie in alle waarskynlikheid hul lewe ingeboet het weens ‘n tekort aan dié toerusting. Baie mense wat gered kon word, het waarskynlik gesterf vanweë ‘n tekort aan toerusting wat hier bloot in groot hoeveelhede opgehoop het en totaal vermors staan.”
Die lewensbedreigende mediese afval wat oop en bloot ophoop is blykbaar nie net ‘n probleem by die Kopanong-hospitaal nie. Die VF Plus se ondersoek dui daarop dat ‘n soortgelyke situasie moontlik by baie provinsiale hospitale in Gauteng heers.
Van Staden sê daar is geen twyfel nie dat die situasie ‘n ernstige gesondheidskrisis skep en dat daar onmiddellik opgetree word om alternatiewe maatreëls te tref om die afval te laat verwyder.
“Die Gautengse departement van gesondheid sal antwoorde moet verskaf oor die ongebruikte toerusting en die nie-betaling van die kontrakteurs om die mediese afval te verwyder,” sê hy.
“Die VF Plus gaan nou met die grootste erns druk op die regering uitoefen om op te tree teen hierdie soort vermorsing van belastingbetalersgeld, die lewens wat daardeur in gevaar gestel word en teen die wanbestuur en wanadministrasie by alle staatshospitale. Wat by Kopanong gebeur, is ‘n skokkende vergryp en skending van menseregte. Dit is lewensgevaarlik vir almal by die hospitaal en die VF Plus sal werk daarvan maak of vas te stel wat die situasie by ander hospitale is.”
Van Staden stel voor dat die situasie by alle staatshospitale deeglik ondersoek moet word. Indien bevind word dat mense hulle aan ernstige wangedrag skuldig gemaak het, moet vervolg hulle vervolg word en selfs tronk toe gaan.
“Daar kan nie langer toegelaat word dat mense wat vir sulke vergrype verantwoordelik is, skotvry daarvan afkom nie,” sê Van Staden.





**********************************************************************************************************
