AfriForum plaas druk op owerheidinstellings oor ivermektien
Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het ’n formele PAIA-aansoek aan die Ministeriële Advieskomitee (MAK) oor COVID-19 en die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktereguleringsowerheid (SAHPRA) gestuur. Die doel van die aansoek is om die dokumente en ander inligting te bekom met betrekking tot die evaluering deur dié instellings van ivermektien vir die voorkoming en behandeling van COVID-19.

“Daar het die afgelope paar maande verdere inligting oor ivermektien se positiewe impak op die voorkoming en behandeling van COVID-19 aan die lig gekom. ’n Voorbeeld hiervan is ’n meta-ontleding wat gister in die American Journal of Therapeutics gepubliseer is. Die ontleding het bevind dat sterfterisiko met 62% en infeksierisiko met 86% verminder kan word deur ivermektien te gebruik. Die inwerkingstelling van voorkoming en vroeë behandeling van COVID-19 deur middel van ’n kombinasie van heraangewende medisynes kan druk op hospitale verminder en lewens red. Alles dui daarop dat die owerhede se huidige aanbevelings oor ivermektien op verouderde inligting berus. Indien ivermektien deur al vier die genoemde instellings beoordeel is, sou die dokumente wat daarop betrekking het immers beskikbaar wees en aangestuur kon word. Die vraag moet gevra word of die publiek opsetlik mislei word, en of mense wat leiersposisies beklee nie weet wat aangaan nie,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.
AfriForum moedig mediese dokters en die publiek aan om verantwoordelikheid te neem en self navorsing te doen oor voorkoming en doeltreffende vroeë behandeling van COVID-19 deur middel van veilige, bekende en bekostigbare heraangewende medisyne.
