Grappies en geen skelwoorde sorg vir 55 gelukkige huweliksjare
VEREENIGING. - Hulle paaie het in 1965 by ‘n dans by die Vaaldam Hotel gekruis en niks sou hul liefde vir mekaar kon keer nie.
Mnr. MC Botha (noemnaam Ems) en sy geliefde vrou Rienie, het die voorreg gehad om op 11 Junie hul 55ste huweliksherdenking te vier.
In Maart 1965 het tannie Rienie op Elandshoek gewoon en by die poskantoor gewerk. Oom Ems het by Groenpunt Gevangenis in Deneysville gewerk. En toe gaan hulle onderskeidelik na daardie dans by die Vaaldam Hotel.
Hul liefde vir mekaar het gesorg dat hul op 11 Junie 1966 op Alkmaar, ‘n klein dorpie in die Laeveld, trou aan mekaar beloof het.
Die egpaar het op Groenpunt Gevangenis se plaas gewoon en daar is drie kinders (‘n seun en twee dogters) uit die huwelik gebore.
Vandag spog die egpaar ook met vier kleinseuns en ‘n kleindogter. Oom Ems was vir 33 jaar in diens van Groenpunt Gevangenis en het in 1992 as majoor afgetree.
Die egpaar het na oom Ems se aftrede vir hulle ‘n huis in Arconpark in Vereeniging gekoop, waar hul steeds woon. Op 82-jarige ouderdom is oom Ems steeds baie bedrywig en werk self in die tuin.
Tannie Rienie (74) is ook nog net so bedrywig en handig met klereskeppings as vroeër jare.
Sy maak steeds trourokke, matriekafskeidrokke en ander pragtige uitrustings van die huis af. Sy doen ook haar eie huiswerk, wasgoed en strykwerk.
“Ons ouers is inderdaad ‘n pragtige voorbeeld vir alle getroudes. Hulle gaan oral saam, lag vir mekaar se grappies, het nooit skel of harde woorde vir mekaar nie en hou steeds handjies vas,” vertel Lesley Botha, trotse skoondogter.
Een van die belangrikste aspekte vir ‘n gelukkige huwelik, is ook die feit dat dié egpaar nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie.
* Vaalweekblad stem saam: wat ‘n wonderlike voorbeeld vir jong getroudes. Baie geluk aan die Botha-egpaar.


