Ons was byna gearresteer in die Parlementsgebou
Elke werk het sy avonture, en in die laat 90's het ons baie avonture by DOW beleef.
Dit was in die 20ste eeu. Ek was nog kommunikasiebeampte by DOW.
Ons het besluit ons gaan ‘n uitstalling in die Parlementsgebou hou tydens die departement se begrotingsrede.
Voor ons het niemand anders nog daaraan gedink nie. Na ons het baie gevolg. Maar daardie eerste jaar…
Ek en die grafiese ontwerper moes met ‘n gehuurde kombi Kaap toe ry. Vlak voor Bloemfontein kry ons ‘n pap band. Net na sonsondergang.
Die kombi was van Durban en die spaarband het vasgeroes.
Ons het die kommunikasieafdeling se enigste selfoon gehad.
Daardie jare was die fone nog so groot soos bakstene en so skaars soos hoendertande.
Bel ek die direkteur in die direkteur-generaal (DG) se kantoor.
Sy kan nie aan ‘n plan dink nie, sy lag te veel oor sy die tale kon hoor wat my kollega van onder die kombi gespreek het oor sy wit hemp vuil smeer.
Uiteindelik word ons toe ingesleep tot op Bloem, waar ‘n werkswinkel so ‘n uur of twee gespook het om die band te vervang.
Kom ons eers anderkant teetyd die volgende dag in die Kaap aan. Die uitstalling het goed afgeloop.
Ons het net so ‘n bietjie moeilikheid by die direkteur en die adjunk gekry omdat ons gesê het dit spook in die Ou Raadsaal in die aande.
Hoe moes ons nou weet die DG se administratiewe personeel gaan ons glo en volstrek weier om in die aand daar te werk?
‘n Jaar of drie later is ek en een van my ander kollegas byna in die einste Parlementsgebou gearresteer. Dit was weer begrotingstyd.
Ons was doenig met persverklarings en toesprake skryf.
Tydens die adjunkminister se toespraak kry ons opdrag om dadelik nog afskrifte van die toespraak na die galery te neem.
Op daardie stadium was ons in die departementele kantore oorkant die pad.
Storm ek en Dries toe met die pak papiere by die Parlementsgebou in, maar die sekuriteit weet ons is van DOW en hulle kan sien ons is op spoed.
Van inteken en besoeker-plakkers kry is daar toe geen sprake nie.
Binne die gebou besef ons skielik dat ons nie seker is waarheen om te gaan nie.
Ons storm maar voort totdat ons op twee manne afkom wat lyk asof hulle van die Men in Black-filmstel kom.
Dis net swart pakke en mikrofoondrade om die ore.
“Wie is julle? Waarheen gaan julle? Het julle sekuriteitsklaring?” onderwerp hulle vir ons net daar aan ‘n ondervraging.
“DOW. Begrogtingstoespraak,” is al wat ons uitasem uitkry.
Benoud, want daar staan ons sonder enige bewyse van identiteit.
Openbaar die manne darem medemenslikheid en sê amper vriendelik, maar baie ferm: “Nou draai julle om. Gaan daar links en dan regs. Vinnig!
“Op die oomblik oortree julle op Nasionale Intelligensie se gebied. Ons kan julle arresteer,” hoor ons nog soos ons die hasepad kies.
Groot gelag daaroor daarna, maar op daardie betrokke minuut was ek baie benoud!
