Die Vaal plek-plek vir dae of weke sonder krag en water
Vanderbijlpark tans weer sonder water weens installering van nuwe meter in hooflyn
Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 23 Junie 2021 Opdatering onder:
Verskeie gebiede in die Vaaldriehoek is die afgelope twee weke behoorlik beproef toe die verouderde infrastruktuur en ander probleme daartoe gelei het dat baie inwoners vir ‘n week of langer gelyktydig sonder elektrisiteit en water moes klaarkom.
Kragonderbrekings is nie meer nuut nie, maar nadat twee groot pype wat water vanaf Rand Water na die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit herlei, gebars het, was byna die hele Vanderbijlpark dae lank sonder water. Verskeie sakeondernemings het saamgespan om sover as moontlik water aan bejaardes, skole en mense in minderbevoorregte gebiede te neem, wat nie voertuie of die geldelike vermoë het om gebottelde water te kon koop nie. Vox Telecom se personeel was van die eerstes wat ingespring het om aandag aan die gemeenskap in nood te gee.
Ondanks reën en ‘n ysige kouefront het hulle meer as 200 mense op 6 Junie gehelp – hoofsaaklik deur drinkwater aan hulle te verskaf.Byna 6 000 liter water is aangery in houers wat Vox Telecom op kort kennisgewing in die hande kon kry. Dit het onder andere twintig 25-liter houers ingesluit, twee 200-liter wheelie bins en ‘n Jojo-tenk. V
ox Telecom het agterna verskeie sakeondernemings en individue wat hulle bygestaan het, bedank. Dit sluit onder andere in: Vumatel en Telelanga, Tirinta en Reinard Schuhknecht, Tanya en Elmarie Senekal, en Wynand de Jager van Open Table Restaurant, wat almal bystand verleen of hul boorgate beskikbaar gestel het. Henberg Vaalpark het selfs ‘n bakkie vir die waterverspreiding beskikbaar gestel.
Sasolburg en Vaalpark was ook vir dae sonder krag nadat twee transformators by die Vaalpark-substasie Saterdag, 12 Junie, ingegee het.
Teen verlede Maandag het ‘n hoofverspreidingspyp wat water aan die Metsimaholo-munisipaliteit lewer, ook die gees gegee, wat baie inwoners vir drie dae met droë krane sowel as geen elektrisiteit, gelaat het. In Vereeniging het dit nie veel beter gegaan nie.
Volgens Alice de Jager, wat by vroue-projekte in die Vaaldriehoek betrokke is, was daar verlede week groot kommer oor inwoners van Miemie Fourie Hof, wat teen 16 Junie reeds ses dae sonder krag en water gesit het. Van die bejaarde inwoners is op suurstofmasjiene en kon nie langer sonder elektrisiteit regkom nie.
Danksy sakevrou Rita Benecke van die Benecke-groep en lede van haar ondersteuningsnetwerk, is reëlings getref om sowat 120 inwoners van Miemie Fourie Hof tydelik na gemeubileerde akkommodasie in Vanderbijlpark te verskuif.Teen die afgelope naweek was die elektrisiteit- en watervoorsiening na meeste Vaaldriehoekse gebiede herstel.
In CW5, CE4, SE7 en gedeeltes van Bedworthpark in Vanderbijlpark, Sonlandpark en Uitbreiding 1 in Vereeniging, sowel as in sekere hoewe-gebiede soos Loch Vaal, was daar egter teen Sondag steeds kragonderbrekings, hoofsaaklik weens transformators wat ingegee het.
OPDATERING OP 24 JUNIE 2021 Sedert die berig in gister se Vaalweekblad verskyn het, het nuwe probleme talle woonbuurte in Emfuleni getref. Verskeie woonbuurte is vanoggend, 24 Junie, weer sonder elektrisiteit, terwyl watervoorsiening in die grootste gedeelte van Vanderbijlpark en omliggende gebiede sedert eergister tydelik gestaak is om ‘n nuwe watermeter in ‘n hooftoevoerpyp te installeer.
“Die Emfuleni Plaaslike Raad het pas dié mediaverklaring uitgereik: Die installering van die kontrolemeters en roetine-instandhouding is oornag gedoen, maar tegnici het vanoggend ‘n geringe lek op die grootlyn ontdek wat water na die Vanderbijlpark-reservoirs voer. Gevolglik bly die afskakeling van watertoevoer na Vanderbijlpark, Bonanne, Boipatong, Tshirela, Bophelong, Bophelong-uitbreidings en omliggende erwe in plek. Sommige gebiede het geen water nie, terwyl ander ‘n aansienlike daling in drukvlakke ervaar. Tegnici is besig met die klein lekkasie, waarna die normale watertoevoer sal hervat. Inwoners word aangemoedig om water spaarsaam te gebruik terwyl tegnici die werk aan die lyn voltooi. Die munisipaliteit vra hiermee verskoning vir die ongerief.”




**********************************************************************************************************
