Jordan Rivers: Musiek is sy hartklop
Jordan Rivers is 'n talentvolle sanger en liedjieskrywer van wie ons nog baie gaan hoor.
VEREENIGING. – “Keep your head up. Keep your feet on the ground. It’s time to rise up and be what you want to be.”
Dis die eerste strofe van Jordan Rivers se eerste enkelsnit wat hierdie jaar vrygestel is.
Jordan Heathcote (22) is besig om naam te maak as Jordan Rivers in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Einde Mei het een van sy grootste drome waar geword toe hy by die Huawei Jo’burg Day musikale extravaganza kon optree.

Die talentvolle jongman het sy skoolloopbaan in Vereeniging voltooi en studeer tans teologie aan die Baptist Theological College in Randburg.
Presies hoe hy sy roeping om pastoor te word gaan kombineer met sy passie vir musiek, weet hy nog nie, maar hy glo hy sal weldra die antwoord vind.
Hy het homself leer kitaar speel deur na YouTube video’s te kyk en beskryf die sosiale media kanaal as ‘n universiteit op sy eie.
“Ek ervaar musiek oral om my. Amper soos daardie seun in August Rush,” vertel hy.
Jordan het sy op en wakker enkelsnit, Show Me How, verlede jaar geskryf en dit is in Februarie vanjaar uitgegee.
Die lirieke en wysie werk goed saam om enige een uit ‘n gat te trek.
Die amptelike video vir Show Me How kan op sy YouTube kanaal gesien word.
‘n Maand na die enkelsnit uitgegee is, het Jordan dit gebruik om in te skryf vir ‘n 947 FM kompetisie.
Hulle was op soek na nuwe talent om saam met die hardebaarde in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, soos Mi Casa, Jesse Clegg en Prime Circle, by die jaarlikse Huawei Jo’burg Day 947 konsert op te tree.
Jordan het op 28 April die oproep ontvang dat hy as eerste finalis in die kompetisie aangewys is.
Daarna het ‘n senutergende proses gevolg waar die radiostasie se luisteraars vir hul gunsteling moes stem.
Op 7 Mei het hy die goeie nuus gehoor dat hy die kompetisie gewen het en op 28 Mei gaan optree.
Nie net kon hy saam met die groot name optree nie, deel van die prys was om deur Jesse Clegg gementor te word.
“Jesse het my baie goeie raad en wenke gegee om te kan oorleef in die musiekbedryf,” het Jordan in ‘n telefoniese onderhoud gesê.
“Ek het nog altyd gesê dat ek eendag op daardie verhoog gaan staan. Dit was net awesome.
“Ek werk al vir die afgelope vyf jaar baie hard aan my musiek en dis lekker om nou die vrugte te kan begin pluk.
“Mense dink altyd iemand is ‘n oornag sukses, maar dit vat jare se voorbereiding en harde werk voordat jy uiteindelik resultate begin sien,” vertel Jordan op sy rustige manier.
Jordan is tans besig om aan sy eerste EP (extended play) album te werk en hoop om eersdaags sy volgende enkelsnit vry te stel.
Hy beskryf sy musiek as happy Indiepop met ‘n Suid-Afrikaanse klank.
“Maak nie saak waar die lewe my neem nie, my musiek sal altyd ‘n Suid-Afrikaanse klank behou,” sê hy.
