Inwoners raadop oor rioolvuil wat in erf opstoot
Om iets so eenvoudig te doen soos om ’n verstopte hoofdrein te rapporteer kan in ’n opdraande stryd ontaard wanneer ’n mens met ’n eniteit soos die wanfunksionele Emfuleni Plaaslike Munsipaliteit te doen het. Só meen Johan en Hanna Erasmus van Edwardstraat in Vereeniging se middestad.
VEREENIGING. – Volgens Hanna sukkel sy en haar man al die afgelope sewe weke om die munisipaliteit te kry om die drein skoon te maak.
Rioolvuil wat onverpoosd uit die verstopte drein borrel dam nou al vir weke lank in hul tuin op.
Die paartjie het gevolglik slote gegrawe in ’n poging om die rioolvuil uit hul erf te kanaliseer.
Die situasie is volgens Hanna ondraaglik.
Sy getuig dat dit feitlik onmoontlik is om iemand by die munisipaliteit op te spoor wat kan help.

“Ons het die munisipaliteit by (016) 986 8361 geskakel, maar by hierdie nommer is daar eenvoudig geen antwoord nie. Maak nie saak hoeveel keer jy bel nie.
“Wannneer mens die selfoonnommer by 065 871 7483 bel word jy gevra om ’n stemboodskap te los, maar niemand kom terug na jou toe nie,” vertel sy moedeloos.
Volgens Hanna het die bure hulle vertel dat hulle self na die die munisipaliteit toe gegaan het om die saak aan te spreek en dat daar reguit aan hulle gesê is dat daar eenvoudig nie geld is om die pompe te herstel nie.

Vaalweekblad het by rdl. Stanley Stanley Mashabela (raadslid vir Wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit) gaan aanklop om raad in te win oor hoe inwoners te werk moet gaan om verstopte drein te rapporteer, sodat hulle gehelp kan word.
Mashabela het bevestig dat Hanna die regte nommers geskakel het en dat die nommers (016) 986 8361 en 065 871 7483 inderdaad die nommers is wat gebruik moet word om waterlekke en rioollekke by Metsi-a-Lekoa aan te meld.

Hy het ook nommers van verskeie munisipale amptenare aan Hanna voorsien, maar nadat sy die nommers geskakel het, het Hanna laat weet: “Ons kom nerens met die nommers nie. Twee van die nommers bestaan nie eers nie en die ander lui net. Nou is ons éérs radeloos.”
Volgens Mashabela ervaar inwoners van die middestad tans groot probleme weens al die pompstasies wat onklaar geraak het.
“Pomstasie 7, wat DeVilliersstraat tot Beaconsfieldlaan dien, is tans buite werking. Pompstasie 3, wat Beaconsfieldlaan tot Senator Markslaan dien, is ook buite werking. Pompstasie 10, wat Stanleylaan tot Livingstonelaan dien, is ook buite werking,” vertel hy.
Daar is volgens hom ook nie kontrakteurs wat kan help om die dreine skoon te suig nie aangesien Emfuleni nie geld het om kontrakteurs te betaal nie.

Volgens Mashabela het die Department van Water en Sanitasie op 7 Junie die projek om Emfuleni se rioolstelsel reg te ruk aan Rand Water oorhandig wat beteken dat Hanna en Johan se hulp moontlik eerder van Rand Water af sal kom.
Die slegte nuus is dat pomstasies 8, 9 en 10 glo eerste op die lys is van pompstasies wat herstel gaan word, wat beteken dat hulle langer sal moet wag.
