Covid-19 eis nóg ’n bekende Vaal-sakeman
Nóg een van die Vaaldriehoek se hoë bome het geval.
VEREENIGING. – Die welbekende en geliefde sakeman, mnr. Edward Richard Dixon (bekend as Richard) is die oggend van Vrydag, 25 Junie weens Covid-19-verwante oorsake dood.
Die 84-jarige mnr. Dixon is volgens sy seun Russell Maandag, 21 Junie in Mediclinic Vereeniging opgeneem en was op pad om na die Saint Augustine Hospitaal in Durban vervoer te word nadat sy toestand versleg het.
Hy is omstreeks 04:00 op pad na die hospitaal oorlede. Mnr. Dixon was ‘n direkteur van die familiebesigheid Dixon Batteries wat in 1955 deur sy ouers, Edward Leslie “Les” Dixon en Marble Dixon gestig is.

Die maatskappy vervaardig motorbatterye. Huldeblyke en boodskappe van bemoediging het die afgelope week op sosiale media vir die Dixon-familie ingestroom.
Hy was ’n bekende inwoner van die Vaaldriehoek wat in verskillende sirkels beweeg het en vriende gemaak het sover as wat hy gegaan het. Mense wat hom geken het beskryf mnr. Dixon as ’n “omgee-mens” met ‘n hart van goud, wat nou by liefdadigheid in die gemeenskap betrokke was en in diens van die gemeenskap gestaan het.
Sy seun Russell beskryf hom as ‘n “gentleman” wat selde sy gewig rondgegooi het en nederig was.
“Sy raad aan my was altyd om verstandig en reguit te wees.
“Hy was ‘n goeie vriend, ‘n besonderse mentor en ‘n vaderfiguur vir baie mense. Hy was ‘n man van geloof en integriteit,” sê Russell.

Volgens sy seun het mnr. Dixon nie afgetree nie, maar was hy steeds aktief betrokke by die familieonderneming tot kort voor sy sterfte.
Hy het sedert Maart 2020 van die huis af gewerk as voorsorgmaatreël teen Covid-19. Mnr. Dixon is op 3 Junie 1937 in Johannesburg gebore en was een van twee broers.
Sy ouers het hom op die jong ouderdom van 5 na ‘n skoolkoshuis aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gestuur waar hy van ’n vroeë ouderdom af geleer het om selfstandig te word.
Hy het later in die KwaZulu-Natalse middelland skoolgegaan by Cordwalles Junior en Secondary School en is later na Michaelhouse in Howick.
Mnr. Dixon het aan Regis College in Johannesburg gematrikuleer.
Hy het in 1957 by sy ouers se familieonderneming – Dixon Batteries – begin werk en het in 1970 ’n direkteur van die maatskappy geword.
Mnr. Dixon het gedurende sy leeftyd aanhou studeer in velde wat hom interesseer en het dikwels lesings en konferensies oorsee bygewoon.
Hy is op 11 Februarie 1961, op 23-jarige ouderdom, met sy vrou Wendy Margaret Dixon (née Banfield) getroud. Mnr. Dixon was gedurende sy leeftyd by verskeie opheffingsprojekte in die gemeenskap betrokke en was nou by die Avondrus Ouetehuis, sowel as die Sedibeng Children’s Haven en die St. Luke Presbyterian Church in Vereeniging betrokke.
Hy was ook by die Rotariërs betrokke en het die gesogte Paul Harris-toekenning ontvang, sowel as die Friends of Rotary-toekenning vir sy jarelange betrokkenheid by die Avondrus Ouetehuis.

Hy is ook deur die Rainbow Nation Toast Masters Club vereer vir sy diens aan die gemeenskap van Vereeniging.
Mnr. Dixon was ook nou by die verskuiwing van die Presbiteriaanse kerk in Vereeniging se middestad na die kerk se nuwe tuiste by die Cedar Community Center in Duncanville betrokke.
Die kerk is verskuif weens die vlaag inbrake in Vereeniging se middestad. In sy vrye tyd was mnr. Dixon lief vir houtwerk, tuinbou (hy het sy eie groente gekweek), vlieghengel (“fly fishing”) en tennis.
Hy was ook lief vir reis.

Hy word oorleef deur sy vrou Wendy, kinders en aangetroude kinders, Jenny en Doug Beere, Sue en Desmond Pyle, Russell en Louise Dixon en tien kleinkinders en sy troeteldiere Chelsea en Mia op wie hy versot was.
Sy broer, mnr. Dave Dixon is reeds oorlede.
’n Gedenkdiens sal op Vrydag 2 Julie om 12:00 vir Dixon gehou word. Die gedenkdiens sal lewendig uitgesaai word.
Jy sal die skakel by www.dixonbatteries.co.za kry.
Die familie van mnr. Dixon het gevra dat mense in plaas van om blomme te stuur eerder skenings aan die Sedibeng Children’s Home maak.

Bankbesonderhede is as volg:
Rekeninghouer: Sedibeng Children’s Home
Rekeningnommer: 021 763 577
Takkode: 051 001
Swift-kode: SBZA ZA JJ
Bewys van betaling kan aan admin@schcycc.co.za gestuur word.
