Inwoners wil sélf stortingsterrein sluit ná brand
Inwoners van Duncanville het genoeg gehad en wil nou die omstrede stortingsterrein in Springboklaan sélf toemaak!
VEREENIGING. – Die terrein was aanvanklik uitsluitlik vir bourommel en tuinrommel bedoel, maar het nou in ’n plek ontaard waar mense allerhande vullis – van motorbande tot kasdeure tot beddens – weggooi.
Volgens rdl. Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, baklei inwoners al jare lank dat die stortingsterrein gesluit moet word.
Daar is tydens ’n raadsvergadering besluit dat die stortingsterrein opgegradeer sou word en afgesper sou word maar volgens Aucamp pas die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nie die wet toe nie.
“Daar is heeltemal te min wagte en die bywet-eenheid kom glad nie na die partytjie toe nie,” meen sy.

Inwoners kan nie die onooglike stortingsterrein met sy vlieë en stank verdra nie en kla oor smouse wat langs die pad sit, ‘n gemors maak en gereeld die stortingsterrein aan die brand steek.
’n Voorval waartydens die stortingsterrein boonop onlangs weer aan die brand gesteek is was glo die laaste strooi.
Jaco Botha, ‘n inwoners wat naby aan die stortingsterrein bly en direk geraak word, sê daar word gereeld brande gestig en as die wind waai trek die rook reguit in sy huis in.

Volgens Monica van Rooyen, ’n inwoner, is die mense wat die ergste onder brande by die stortingsterrein ly die inwoners met asma, emfiseem of inwoners wat tans besig is om van Covid-19 te herstel.
Sy kla ook dat mense al hul vullis oorkant die straat van die stortingsterrein gooi en dat die reuk van vullis dan by mense se huise in waai. Volgens van Rooyen is dit ‘n gesondheidsrisiko vir mense wat in die omgewing bly.

Vaalweekblad verneem inwoners is van plan om 15:00 Maandagmiddag (5 Julie) sélf die pad wat na die stortingsterrein lei te versper, sodat mense dit nie meer kan gebruik nie.
Aucamp het mense en besighede aangeraai om eerder hul vullis na die stortingsterrein in Redan te neem, waar inwoners elke dag vullis tot en met een ton gratis kan stort.
