Paaltjies spat soos mieliepitte
Ettienne van Rensburg VEREENIGING. – Die lopies het gevloei en die paaltjies het soos mieliepitte gespat tydens Vaal Youth Cricket se Sixes Winter Bash-reeks wat verlede week op Verref se krieketvelde plaasgevind het. Die reeks het uit o.10 en o.12-spanne bestaan met spelers van regoor die Vaaldriehoek. Die laaste wedstryde is Sondag, 4 Julie gespeel. …

Ettienne van Rensburg
VEREENIGING. – Die lopies het gevloei en die paaltjies het soos mieliepitte gespat tydens Vaal Youth Cricket se Sixes Winter Bash-reeks wat verlede week op Verref se krieketvelde plaasgevind het.
Die reeks het uit o.10 en o.12-spanne bestaan met spelers van regoor die Vaaldriehoek. Die laaste wedstryde is Sondag, 4 Julie gespeel.
Die PFJ Warriors het bo-aan die punteleer vir o.10-spanne geëindig en al wat die span van die Rockets 10s onderskei het, was ‘n beter netto lopietempo.
Die Rockets 12s het al drie sy kragmetings gewen om met nege punte op die kruin van die o.12-punteleer te eindig. Wat die individuele prestasies van die reeks betref, het Caleb Laubscher van die Deklab Chargers 10s met 118 lopies van 41 aflewerings in drie beurte (15×4 en 6×6) en ‘n hoogste telling van 54 nie uit nie as top o.10-lopiemaker van die reeks uit die stryd getree. Hy is ook as die o.10 Speler van die Reeks gekroon.
Sy spanmaat, Xander du Plessis, het met ‘n spog boulontleding van 5/27 in 6 beurte die meeste paaltjies platgetrek.
Wat die groot kanonne betref, het Declan Steinman van die Rockets 12s met 92 lopies van 35 aflewerings (10×4 en 6×6) in drie beurte gesorg dat hy as die voorste lopievraat en o.12 Speler van die Reeks gekroon is.
In die boul-afdeling het PieterJan Vorster (Rockets: 3-35-6), Vaughn van Staden (Rising Sunset Sixers: 3-35-5) en Edrich Herbst (Rockets: 3-36-6) in mekaar se nekke geblaas.
Vorster het met die louere weggestap omdat hy slegs 5.83 lopies per beurt afgestaan het.


