Local newsNationalNewsNews

Polisie moet beter toegerus word

Die VF Plus sê hy het die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, dringend versoek om polisielede beter toe te rus met genoegsame vuurwapens, ammunisie en voertuie om die huidige gewelddadige onluste onder beheer te bring.

Volgens Kobus Hoffman, VF Plus lid van die Gautengse wetgewer, het party ook die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, versoek om ʼn dringende gemeenskapsveiligheidkomitee-vergadering te belê waar die situasie bespreek kan word.  

Die VF Plus sal daar vra dat bykomende beskerming gebied word aan regeringsinfrastruktuur soos staatsgeboue, treinstasies en hoofpaaie.  

Die tydelike diensstaking van Metrorail en die Rea Vaya-busdiens is genoodsaak, nie net om die netwerke te beskerm nie, maar ook werknemers en passasiers.   

Intussen het Rand Water en City Power aangekondig dat hul werknemers weens die onluste nie dienste op grondvlak kan verskaf nie.  

“Plunderaars kan nie toegelaat word om winkels te stroop en motors aan die brand te steek nie. Die ekonomie is reeds op sy knieë weens die Covid-19-inperkings en baie meer sake-eienaars wie se ondernemings beskadig en geplunder is, het geen ander keuse om hul deure permanent te sluit nie,” sê Hoffman.

Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Provinsiale Wetgewer in Gauteng.

  Hy  sê die aanslag op swaarvoertuie vanaf KwaZulu-Natal na Gauteng word ten sterkste veroordeel en kan noodsaaklike tekorte in Gauteng teweegbring.  

“Die VF Plus is bekommerd omdat die polisie se intelligensie-netwerke van so ‘n aard is dat geen voorkomende  maatreëls getref is om die gewelddadige optrede in Gauteng te onderdruk nie en skryf dit toe aan die gebrek aan politieke wil om die situasie te beheer,”sê Hoffman.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button