LifestyleNews

Waldo presteer oorsee én is te sien in Nicholis Louw se nuwe video!

Hy ontvang ook sy volle Suid-Afrikaanse kleure en dra dit met trots

VEREENIGING. – Waldo-Duane Potgieter van die Vaaldriehoek is maar net 12 jaar oud maar is reeds besig om sy stempel op die modelwêreld af te druk. Nou is hy boonop gekies om deel te wees van ‘n nuwe musiekvideo van die sanger Nicholis Louw.

Volgens Waldo se ma, Monica Potgieter, geniet hy die lewe op die loopplank. Hy word afgerig deur Juanita Oosthuizen van Chantenique Afronding en Sjarme Skool, en het reeds talle plaaslike modelkompetisies en fotogeniese kompetisies gewen.

Waldo se motto in die lewe is: “Leef jou drome en geniet dit wat jy doen” – en dit is duidelik dat hy dié lewensbeskouing voluit uitleef.

Tydens die jaarlikse Del Arte Eisteddfod het Waldo uitstekende uitslae behaal: Twee A++ en sewe A+ toekennings. Hy het gekwalifiseer om aan die jaarlikse Talent Africa Nationals deel te neem, waar hy 10 goue medaljes en twee spesiale toekennings ontvang het. Die spesiale toekennings sluit in ‘n algehele derde plek vir die junior seunsafdeling, asook ‘n algehele eerste plek vir sy duet-item.

Hy is gekies as lid van die Suid-Afrikaanse span en het ingeskryf vir die International Stars 2021-kompetisie, wat aangebied word in samewerking met Talent Africa, Pole en Ierland. Ongelukkig het die Covid-inperking dit onmoontlik gemaak om te reis en die kompetisie moes op 15 Mei vanjaar virtueel voortgesit word. Ondanks die feit dat deelnemers van 25 lande, onder andere Rusland, die VSA, Portugal, Duitsland, Dubai, Pole en Ierland aan die International Stars 2021-kompetisie deelgeneem het, kon Waldo steeds daarin slaag om behoorlik raakgesien te word. Hy het uitstekend gevaar en die volgende internasionale toekennings verwerf:

  • II Laureate (2de plek) Modelwerk: Fiksheidsdrag Junior Seuns 10 – 12 jaar.
  • III Laureate (3de plek) Modelwerk: Formele drag Junior Seuns 10 – 12 jaar.

Hy ontvang ook sy volle Suid-Afrikaanse kleure en dra dit met trots. Waldo beoog om, sodra die inperking dit toelaat, sy droom verder uit te leef en dit te geniet. Hy sê die groot geheim van die loopplank is om hard te oefen, nederig te bly en steeds te bly leer.

‘n Volgende hoogtepunt waarna hy uitsien is die opname van ‘n musiekvideo saam met die bekende sanger, Nicholis Louw, wat in Augustus vanjaar opgeneem gaan word. Waldo is gekies as ‘n wenner tydens die FotoFokus-kompetisie van ABS Productions waarin hy ‘n rol in ‘n musiekvideo saam met die bekende sanger gewen het.

Foto’s onder: Met erkenning aan Nickey Hinde – NH Photography en Monica Potgieter.

 

Waldo Potgieter van die Vaaldriehoek, se talente word selfs in die buiteland raakgesien. 

****************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button