Hier is Midvaal se nuwe kragtariewe opgesom
Op 1 Julie 2021 het die nuwe boekjaar begin en is die nuwe tariewe geaktiveer
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-hoofsweep, Midvaal Plaaslike Muisipaliteit:
Op 1 Julie 2021 het die nuwe finansiële jaar in aanvang geneem en is die nuwe tariewe geaktiveer. Hierdie tariewe word vasgestel deur NERSA en Midvaal kan slegs intree vir ons inwoners met ‘n spesiale versoek. Ek het reeds ʼn aantal weke gelede oor die goedgekeurde begroting gerapporteer maar sal graag die nuwe elektrisiteittariewe wil uitlig.
In Midvaal word elektrisiteit in sekere wyke deur Eskom direk verskaf en in ander deur Midvaal as tussenganger vanaf Eskom (van wie af kry jy jou elektrisiteitsrekening?). Dit beteken dat waar Midvaal die tussenganger is, die infrastruktuur deur Midvaal onderhou word. Vir die rede word ʼn minimale diensfooi op die elektrisiteit gehef. Dieselfde geld vir die voorsiening van water. Hierdie tariewe is op Midvaal se webblad gepubliseer.
Vanaf 1 Julie 2021 is voorafbetaal-eenhede se koste soos volg:
0-50 eenhede: R1,35/eenheid
51-350 eenhede: R1,69/eenheid
351-600 eenhede: R2,50/eenheid
601 en meer: R2,91/eenheid
(Vir doeleindes van voorbeeld is die getalle afgerond)
Hierdie tariewe word op ʼn glyskaal verhaal. Die glyskaal werk as volg: Op die eerste van elke maand word die minimum tarief van R1,35c verhaal vir die eerste 50 eenhede wat aangekoop word. Vanaf eenhede 51 tot 350 word die tweede vlak van die glyskaal verhaal wat R1,69c is. Vanaf eenhede 351 tot 600 verhaal hulle R2,50c per eenheid en vanaf 601 opwaarts is die tarief van R2,91 van toepassing. Aan die begin van die volgende maand begin die eenhede weer op 0 teen R1,35c per eenheid.
Wanneer jy dus 100 eenhede koop op die eerste van die maand sal jy R1,35 per eenheid betaal vir die eerste 50 eenhede (R67,57c) en dan vir eenhede 51-100 die bedrag van R1,69 per eenheid (R84,92c). Dit sal jou dus ongeveer R152,51c kos vir die eerste 100 eenhede teen ʼn gemiddeld van R1,53/eenheid, ens.
Dit maak dus sin om te bepaal hoeveel eenhede jy min of meer per maand gebruik en dan slegs daardie aantal eenhede aan te koop vir die maand. As jy bv slegs 800 eenhede gebruik in die maand maar 1000 eenhede gekoop het gaan jy vir die laaste 200 eenhede die hoogste tarief betaal (R2,91) i.p.v. die laer koste vir die eerste 50 en dan 51 tot 350 ens. wat jy in die volgende maand sou betaal. Dit is dus nie koste effektief om bv.: R10 000 se krag op een slag aan te koop nie.
DIE MIDVAAL VERSKIL
Midvaal het na onderhandelinge met NERSA aangekondig dat hulle die oorspronklike voorstel van 16% verhoging kon aanpas na slegs 14,42% vir ons inwoners.
Trotse Midvaal Groete
Phil
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App
**********************************************************************************************************************