VANDERBIJLPARK. – Glo jy in liefde met die eerste oogopslag? Dié vraag kom van Amoré Koekemoer, wat hier meer vertel oor haar grootouers, Koos en Johanna Joubert, se liefde wat met die jare net sterker word.
Die egpaar het op 4 Julie hul 62ste huweliksherdenking gevier.
Amoré vertel: 1955 was die begin van iets baie waardevol en mooi. Op die ouderdom van 19 staan Koos buite hul erf by die tuinhekkie in Vanderbijlpark vir sy vriend en wag. Terwyl hy so staan, vang iemand sy oog. Buite in ‘n ander erf, ‘n paar huise van Koos-hulle af, is drie sussies besig om tou te spring. Dit was die oudste sussie, Johanna (toe 14) wat Koos se aandag geboei het. Hy het by homself gedink dat sy eendag ‘n baie mooi vrou gaan wees, min wetend dat sy eendag sy vrou sou word…
Daar was nog geleenthede waar hulle in die verbygaan oogkontak gemaak het. Later daardie jaar raak Koos by die destydse Jeugbond betrokke. Tot sy vreugde sluit Johanna en haar broers ook aan, sodat hulle nou baie meer tyd saam kon spandeer. Johanna se twee broers het begin belangstel in Koos se twee jonger sussies, maar die enigste manier hoe hulle die sussies kon uitneem, was as Koos sou saamgaan om sy sussies op te pas, want ouers was baie streng in daardie dae! Johanna moes toe maar saamkom om Koos geselskap te hou. Min het almal geweet dat sy lankal Koos se oog gevang het en dat die tweetjies reeds gevoelens vir mekaar begin ontwikkel het.
Weens die “groot” ouderdomsverskil van vyf jaar, sou nie een van hulle se ouers egter in daardie stadium ‘n verhouding toelaat nie. In 1957 het Koos en Johanna stilweg ‘n paartjie geword.
Ongelukkig het ‘n “ramp” die jong verliefdes getref toe Johanna later daardie jaar saam met haar ouers na Johannesburg en nog later na Pretoria moes trek. Koos, wat toe reeds gewerk het, kon net naweke met sy 1936 Fordjie deurry om te gaan kuier. Nadat Koos in Desember 1958 sy vakleerlingskap voltooi en ‘n volwaardige ambagsman geword het, het hy besluit hy het genoeg van dié langafstand-liefde gehad. Nadat hy Johanna en haar ouers se jawoord gekry het, is hulle ses maande later, op 4 Julie 1959, in die NG Kerk Pretoria-Wes in die eg verbind.
Tyd vir ‘n wittebrood was daar nie, want Koos en Johanna het die Saterdag getrou en moes die Sondag terugry na Koos se woonstel omdat hy die Maandag moes werk. Hoewel hulle nie ‘n wittebrood gehad het nie, terg Koos dat hulle wel ‘n “toebroodjietyd” gehad het omdat Johanna elke dag vir hom broodjies ingepak het werk toe.
In 1960 raak Johanna swanger met hul eerste kind en die egpaar koop hul eerste drieslaapkamerhuis in Vanderbijlpark teen ‘n hele 3 200 pond. Koos en Johanna, vandag onderskeidelik 84 is 79, is in oorvloed geseën met vier kinders, agt kleinkinders (van wie hulle ongelukkig een kleinseun in 2004 aan die dood moes afstaan na ‘n motorfietsongeluk) en agt agterkleinkinders. Die egpaar is steeds baie opgewonde en positief oor wat die toekoms vir hulle inhou.
Daar sal altyd uitdagings wees wat ‘n huwelik kan maak of breek, maar in die Jouberts se geval was breek nooit ‘n opsie nie! Wanneer iets vir jou so mooi en kosbaar is, werk ‘n mens hard daaraan en vertroetel jy dit daagliks. Dis vir my die grootste voorreg om dié storie oor my Oupa Koos en Ouma Johanna te kon deel omdat dit daagliks vir my ‘n inspirasie en motivering is dat daar wel iets soos ware liefde is.
Om terug te kom na my vraag aan die begin: Ja, ek glo aan liefde met die eerste oogopslag, veral na aanleiding van my oupa en ouma se verhaal, want dit beteken nie noodwendig ‘n kitsverhouding of huwelik nie… nee, dit mag dalk eers oor maande begin ontwikkel, maar met daardie eerste oogkontak sal jy weet… En dalk wag daar vir jou ook ‘n liefde wat met die jare net beter en sterker word!


******************************************************************************************************
