Olimpiese-glorie wink vir Valie
VANDERBIJLPARK. – Van opkomende ster tot superster in slegs nege maande. Dit is in ‘n neutedop hoe die 19-jarige hekkie-sensasie, Marioné Fourie, se skielike inbraak vanjaar op die Suid-Afrikaanse Atletieklandskap vorm geneem het. Sy is tans die Suid-Afrikaanse senior- (13.56s), SA junior- (13.47s) en SA-Studente hekkieskampioen (13.61s). Die vorige persoon wat dit kon vermag het, …
VANDERBIJLPARK. – Van opkomende ster tot superster in slegs nege maande.
Dit is in ‘n neutedop hoe die 19-jarige hekkie-sensasie, Marioné Fourie, se skielike inbraak vanjaar op die Suid-Afrikaanse Atletieklandskap vorm geneem het.

Sy is tans die Suid-Afrikaanse senior- (13.56s), SA junior- (13.47s) en SA-Studente hekkieskampioen (13.61s).
Die vorige persoon wat dit kon vermag het, is Rikenette Steenkamp, die Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 100m-hekkies.
Marioné, ‘n oud-leerling van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, was van kindsbeen af ‘n kranige sportvrou, maar haar loopbaan as hekkiesloper het werklik eers vlam gevat toe sy by die Universiteit van Pretoria (Tukkies) gaan studeer het.
“Die belangrikste is… ‘n atleet maak nie ‘n ‘coach’ nie, maar ‘n ‘coach’ maak ‘n atleet. Sonder my afrigters sou ek dit nie kon bereik nie,” het sy uit Florence, Italië aan Vaalweekblad gesê.
Sy oefen tans by Juan Strydom in die Jakarandastad, maar is vol lof vir Gert Grobler wat haar atletiekloopbaan gebrei het en haar liefde vir hekkies gekweek het.
Hy het altyd vir my gesê: “Word rustig en glo in jouself. Werk net hard. Sonder dit sou ek nêrens gekom het nie,” bieg sy.
Die skuif na die Jakarandastad was ‘n groot uitdaging, maar net die regte medisyne vir haar.
“Ek het in November (2020) by my nuwe afrigter begin oefen en my eerste byeenkoms met ‘n tyd van 13.80s afgeskop. Dit was ‘n groot sprong. My liggaam het goed reageer by die nuwe omgewing, roetine en gym. Dit sorg vir ‘n warm gevoel in my hart. Ek neem niks vir ‘granted’ nie. Dit is alles te danke aan die Here wat die talent vir my gegee het,” sê sy.
Fourie het onlangs tydens Atletiek Gauteng Noord se vyfde ligabyeenkoms by Tukkies ‘n spogtyd van 13.26s opgestel.
Dit sou ‘n Suid-Afrikaanse rekord gewees het as die rugwind nie +2.4m/s was nie.
Benewens Steenkamp, die SA-rekordhouer en Fourie, het slegs een ander atleet, Claudia Heunis (13.23s in 2017) die afstand in minder as 13.30s afgelê.
Sy is tans saam met haar afrigter in Italië om aan vyf byeenkomste deel te neem.
Dit vorm deel van haar voorbereiding vir die Wêreld Junior Kampioenskap wat einde Augustus in Kenia plaasvind.
Sy beklee tans die negende plek op die wêreld junior ranglys en haar afrigter glo dat sy ‘n kandidaat is om ‘n medalje te verwerf.
Sy het ook vir die Afrika Kampioenskap gekwalifiseer wat ongelukkig weens die Covid-19 pandemie afgestel is.
Hoewel ‘n podiumplek in Kenia haar korttermyn doelwit is, droom die beeldskone blondine om haarself ook eendag ‘n Olimpiese-atleet te noem.
Wie weet, dié droom kan in 2024 in Parys, Frankryk bewaarheid word wanneer sy as lid van die SA-span se Olimpiese-optog by die Stade de France-stadion inloop.
