News

Plundering van kitsbanke: Vanderbijlparkse vrou kry inkbevlekte note by bank se OTM

Moenie sulke note aanvaar of probeer gebruik nie – dien dit in by jou naaste polisiestasie

‘n Inwoner van Vanderbijlpark is woedend nadat sy gister R500 by ‘n outomatiese bankteller in die dorp getrek en note wat met ink bevlek was, ontvang het. Sy sê op Vaalweekblad Facebook sy het dadelik by die nabygeleë bank ingegaan en die note wat sy by hul teller buitekant ontvang het, aan hulle getoon. ‘n Bankwerknemer het egter aan haar gesê dat hulle dit nie mag omruil nie. Sy mag volgens wet nie die geld gebruik nie en verloor dus die R500. Die vrou sê R500 is dalk ‘n klein bedrag vir die bank, maar vir haar en haar gesin beteken dit dat hulle letterlik hul geld waaermee hulle kos sou koop, verloor het.

Vaalweekblad is in die proses om uit te vind wat bankkliënte in so ‘n geval moet doen en ons weerhou tans die bank se naam. Dit blyk in dié stadium dat as ‘n bank nie die note wat  hulle self vrygestel het, wil omruil nie, ‘n kliënt ‘n klag by hul naaste polisiestasie moet indien en moet meld by watter bank se OTM hulle dit ontvang het sodat die saak behoorlik ondersoek kan word.

Lees ook die raad van die Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum, SABRIC , hier onder:

Indien jy in die volgende weke of maande geldnote ontvang wat met groen ink bevlek is, moet dit nie aanvaar nie. As jy wel sulke note onbewustelik in jou besit gekry het, moet dit nie probeer gebruik nie want jy stel jou dan aan vervolging bloot.

Dít is die waarskuwing van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum, SABRIC, nadat verskeie kitsbanke verlede week tydens die onrus in Gauteng en KwaZulu-Natal geplunder is en groot bedrae geld gesteel is.Kontant word in spesiale houers in kitsbanke bewaar en wanneer iemand dit probeer oopbreek, word kleurvlek-tegnologie geaktiveer en die note met ‘n onverwyderbare groen ink bespuit.

SABRIC en die Reserwebank wys daarop dat sulke gevlekte banknote as die opbrengs van ‘n misdaad beskou word. Dit het dus geen waarde as wettige betaalmiddel nie en kan nie by ‘n bank vir onbevlekte geld omgeruil word nie. Lede van die publiek wat onskuldig in besit van sulke banknote gekom het, kan ongelukkig ook nie nuwe note van die Reserwebank af eis nie.

Volgens Nischal Mewalall, uitvoerende hoof van SABRIC, loop mense wat sulke gemerkte geld as betaalmiddel probeer gebruik, die gevaar om ondersoek of in hegtenis geneem te word as verdagtes in die afgelope week se vernietiging van verskeie kitsbanke. Hy sê sakeondernemings of individue wat sulke gekleurde note onskuldig as betaling ontvang het, moet dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens by 0860 010 111 aanmeld of dit by hul naaste polisiekantoor inhandig.

* SABRIC koördineer interbankaktiwiteite wat daarop gemik is om georganiseerde finansiële bankmisdaad, geweldsmisdaad en kubermisdaad te bestry of oortreders aan die pen te laat ry.

‘n Voorbeeld van ‘n gesteelde banknoot wat met die onverwyderbare ink gevlek is.

******************************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button