Legendariese hengelaar Boeta Lewis en sy “tips” word met hartseer onthou
“Ons gaan hom baie mis, maar hy sal in ons harte en gedagtes voortleef. Rus in vrede, oom Boeta.”
VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van die bekende plaaslike sakeman en gesoute hengelaar, mnr. Boeta Lewis (62), het Saterdagmiddag hul laaste eer aan hom betuig voor die familieonderneming, Varswater Paradys Hengelwinkel in Shakespearestraat.Boet, wat op 19 Julie gesterf het, was die eienaar van dié onderneming en ook die eerste handelaar om “visvang-dips” in Suid-Afrika te vervaardig en te verkoop.
Hy was onder andere bekend vir sy Goldstar Fishing Dips en Awesome Baits, wat deesdae deur baie hengelaars landwyd gebruik word.
Boeta, wat in op 19 Januarie 1959 in Vanderbijlpark gebore is, was van jongs-af gek oor die viswaters en het elke hoek en draai van die Vaaldam en Vaalrivier se hengelplekke geken. Hy het sy kennis nie vir homself gehou nie maar die fyner geheime en kunsies van hengel met sy vriende en opkomende hengelaars gedeel. Hy is as een van die land se voorste varswaterhengelaars beskou en het dwarsdeur sy lewe jong hengelaars vanaf grondslagfase tot op provinsiale of nasionale vlak help ontwikkel. Verskeie van die jong hengelaars wat deur hom gementor is, het deur die jare Springbokkleure in hengel verwerf.
Volgens ‘n ou vriend, Danie Cilliers, sal Boeta se plek nooit gevul kan word nie.
“Hy was so deel van die hengelbedryf en die Vaaldriehoek soos sy winkel self. ‘n Groot boom het geval.”
Nog ‘n vriend, Blikkies Blignault, beskryf hom as ‘n merkwaardige man. “Sy heengaan is ‘n groot skok vir alle hengelaars met wie hy deur die jare paaie gekruis het,” sê hy.
Mnr. Hannes van der Vyver, wat ook ‘n lang hengelpad saam met Boeta gestap het, sê hy het diep spore in almal wat hom geken het, se lewens getrap. “Ons gaan hom baie mis, maar hy sal in ons harte en gedagtes voortleef. Rus in vrede, oom Boeta.”
Mnr. Lewis word oorleef deur sy vrou, Suezette, dogters Lizelle en Jacqueline, seun Reuben, en kleinkinders, Zandrè, Ilizè en Janique.
HIER VERTEL RONNIE GROENEWALD, ‘N OU VRIEND VAN BOETA, MEER OOR DIé LEGENDARIESE MAN:
Boeta was ‘n LEGEND – nee, is ‘n LEGEND in die hengelgemeenskap, nie net in die Vaaldriehoek nie maar reg oor die land. Hy het diep spore in mense se lewens gelaat as hengelaar en mens, hy het nooit die geleentheid laat verbygaan om sy medehengelaars met raad en aas te help nie. Hy het altyd ‘n plan gehad of een gemaak of dit nou was om te gaan hengel, of by sy besigheid, of om ‘n nuwe produk te ontwikkel.
Boeta het in die laat negentigs begin met Ligtegerei Boothengel – dit is daar waar ek met hom bevriend geraak het, hy was toe al reeds ‘n oewer-Springbok hengelaar en later ook ‘n Protea Ligtegerei Boot hengelaar. Ons het almal gou geleer die man KAN. Hy en Suezette het gou in ons harte geklim en deel van ons Ligtegerei bootgemeenskap geword.
Daar is so baie staaltjies om te vertel van boeta by die hengel, soos die keer toe hy besluit het dat hy gaan “noodles” geur om te gebruik by ‘n kompetisie by die see as lok-aas en dit het toe ook nogal gewerk. Of die keer toe ek en hy in stormweer op Loskopdam nie op ons plek kon gaan anker het nie en hy amper van die boot afgeval het terwyl ons op ‘n ander plek probeer anker het. Of die keer tydens ‘n SA’s op die Vaalrivier waar Boeta elke keer as hy van die water af kom, die liedjie Skarumba gesing het en almal vir hom gevra het met wat se aas hy gehengel het en hy vir hulle gesê het Skarumba …. en almal eers teen die laaste dag van die kompetisie besef het dat dit ‘n nuwe bol dip is wat hy ontwikkel het.
Wanneer ons op die water was en die vis wou nie byt nie, dan het hy altyd die water dopgehou en kort voor lank dan sal hy vir my sê: daar kom die vis en nie lank nie, dan byt die vis.
So het Boeta oor die jare verskillende dips en floaties ontwikkel en elke keer as daar ‘n nuwe produk was dan het Boeta gebring sodat ek dit moet probeer. Die mees gewilde was “Boeta se baba” – almal wat sy aas gebruik het sal dit onthou. Hy was ‘n meester met geure. Hy kon net aan ‘n dip of floatie geruik het en hy kon vir jou sê watter geure gebruik was. Iets wat my altyd sal bybly is wanneer hy vir my sê ons moet dit spaarsamig gebruik want die geur is “ge-discontinued”.
As daar vis in ‘n dam of rivier was sou Boeta dit vang, hy het altyd ‘n plan gemaak. Hy was altyd baie ongelukkig as hy en Suezette saam gehengel het en sy aas uit haar skelmsakkie haal en dit die opposisie se produk was … dan het hy alles in sy vermoë gedoen om te bewys dat sy produk beter is.
Boeta het ook diep spore getrap by die junior hengelaars, hulle het baie by hom geleer hy het nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om hulle skipper te kon wees nie. Saam met hom het hulle altyd goed presteer, die kinders was altyd bly as hulle hoor hy is hulle skipper by enige kompetisie. Hy het ook nooit omgegee as hulle op sy boot mors nie, hy kon self ook maar lekker mors, solank hulle dit net geniet het om te kon hengel.
Suezette het ‘n paar jaar gelede vir Boeta ‘n groot geskenk gegee toe sy vir hulle ‘n stukkie grond langs Vaaldam gekoop het. Boeta het geen geleentheid laat verbygaan om soontoe te gaan nie. Daar het hy vis gevang, geboer en gebrou, dit is waar hy op sy gelukkigste was. Almal was altyd daar welkom en hy het nooit enige geleentheid laat verbygaan om saam met hulle daar te hengel nie. Hy sou gewoonlik die stokke ingooi en sodra die vis byt, vir die wat saam met hom was sê om die vis uit te trek. Hy het groot genot daaruit geput om die vreugde op hulle gesig te sien as die vis aan wal is.
Boeta kon ook nooit genoeg doen vir sy gesin nie. Hy het hulle in alles ondersteun, vir sy seun Reuben sou hy deur vuur loop. Hy en Suezette het saam harde bene in die lewe gekou. Hy het baie staaltjies te vertel gehad van toe hy nog op die myn gewerk het, hoe hy vis gaan vang het om kos op die tafel te sit en dan die verskillende disse wat hulle gemaak het van vis, soveel so dat jou mond later gewater het.
Boeta, jy was nie net ‘n hengelaar wat vis kon vang nie maar jy was ook ‘n hengelaar van mense.



**********************************************************************************************************************
