News

Oud-Valie onthul ware lewensdrama agter die moord op 2 skoolmeisies

Oud-redaksielid van Vaalweekblad skryf boek oor die skokkende Stella-moorde

Suid-Afrika is in 2018 geruk deur die skokkende moord op twee skoolmeisies, Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle Hough (17), in die dorp Stella in Noordwes. Dié boesemvriendinne is op 26 Mei daardie jaar in hul skoolkoshuis verwurg. Xander Bylsma (toe 19), Sharnelle se eks-kêrel, het probeer om dit na selfmoord te laat lyk, maar is in 2020 aan albei moorde skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê.

Dit was Beeld- en Netwerk24-verslaggewer Susan Cilliers se taak om die hofsaak wat oor byna drie jaar gestrek het, getrou te volg en gereeld in die koerant terugvoer te gee. Koerantruimte is beperk en hoewel haar beriggewing, kenmerkend aan haar aard, deeglik en noukeurig was, was daar nie plek om die fyner intriges en vurige emosies rondom die gebeure in geheel te beskryf nie.

Toe Lapa-uitgewers haar na afhandeling van die hofsaak nader om ‘n boek oor die Stella-moorde te skryf, het sy na deeglike wik-en-weeg besluit om dit tóg te doen. Sy het in daardie stadium pas haar meestersgraad in joernalistiek tussen haar veeleisende voltydse werk deur afgehandel en was dus reeds gewoond aan ‘n streng navorsingsroetine. Boonop was sy lus vir ‘n nuwe uitdaging. Sedert Augustus 2020 het sy toegewyd en planmatig, een dag in haar naweek sowel as haar af dae, gebruik om te skryf. Sy het ook verlof geneem om die boek teen April vanjaar te voltooi. Die eindproduk, Die Stella-moorde, is pas vrygestel.

Baie Vaalweekbladlesers sal die skryweer, Susan Cilliers, onthou as voormalige hoofverslaggewer by ons koerant: ‘n Swaargewigjoernalis wie se vasbyt- en priemende ondersoekende vermoëns goed verskuil word agter haar fyngeboude gestalte en onnutsige engeltjie-voorkoms! Na sowat ses jaar by Vaalweekblad het Huisgenoot haar in 2003 opgeraap, waar sy haar op die skryf van menslike artikels toegespits het. Daarna het sy by die dagblad Beeld aangesluit en weer by hardenuus-verslaggewing betrokke geraak.

Susan, wat ‘n goedgeslypte aanvoeling vir die menslike aard en emosies het, sê dit was ‘n groot uitdaging om die boek te skryf maar dat sy beslis nie te min materiaal gehad het nie. Daar was byvoorbeeld volledige maatskaplike verslae waaruit sy net dele in haar oorspronklike koerantverslaggewing kon insluit. Vir die boek kon sy dus baie meer daarvan gebruik. Sy het ook die volledige polisiedossier in die hande gekry, wat heelwat inligting uit die ondersoek bevat wat nie in die hof uitgekom het nie. Waar sy nog inligting benodig het, het sy nuwe onderhoude gevoer.‘n Hartseer hoogtepunt, sê Susan, was ‘n onderhoud met die vermoorde Marna se ma, Rianet Engelbrecht, wat gedurende die jare wat die hofsaak aan die gang was, nooit met die media wou praat nie, maar agterna wel ingestem het om met Susan te praat. Dié onderhoud vorm die laaste meesleurende hoofstuk van die boek.

Die Stella-moorde is by boekwinkels te koop en kan ook bestel word by www.lapa.co.za.

Dit is die tweede nie-fiksieboek uit Susan se pen. Haar vorige uitmuntende boek, Huis van Gruwels: My 16-jaar in die Springs-hel, vertel die verhaal van ‘n jong meisie wat saam met haar sibbe die mees ondenkbare mishandeling in hul gesinslewe ervaar het. Dié boek kan ook deur Lapa bestel of by vooraanstaande boekwinkels gekoop word.

Lees ook ‘n resensie van Die Stella Moorde by hierdie skakel:

https://potchefstroomherald.co.za/88597/potchefstromer-stel-boek-oor-stella-moorde-bekend/

Susan Cilliers, oudverslaggewer van Vaalweekblad en skrywer van die boek, Die Stella-moorde.

****************************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button