LifestyleNews

Pastoor Gerhard sterf: Midvaal-Brandweer en inwoners groet ‘n steunpilaar

Hy het die afgelope 10 jaar beradingsdienste aan brandweermanne aangebied, sowel as mense bygestaan wat geliefdes of eiendom in brande verloor het

MEYERTON. – Lidmate van die Hart van God-familiegemeente is in rou na die afsterwe van hul geliefde leraar, pastoor Gerhard Oosthuizen. Hy het op 22 Julie net voor middernag aan Covid-19 gesterf.

Gemeentelede beskryf hom as ‘n ware kind van God wat saam met sy vrou, Heidi, talle persoonlike opofferings gemaak het om geestelike leiding en fisiese versorging aan baie mense van Meyerton en omstreke te bied.

“Hy het ons lewens verryk met wysheid, genade en bowenal, liefde. Woorde kan nie ons pyn en verlies beskryf nie, maar ons vier sy lewe met blydskap en weet dat hy nou by ons Vader is,” sê een van die lidmate, Diana Pretorius.

Pastoor Gerhard was bekend vir die besorgdheid wat hy vir elke mens en dier gehad het. Buiten sy diepe insig en kennis van die Bybel wat hy in sy gereelde boodskappe aan gemeentelede oorgedra het, was hy ook ‘n uitstekende musikant wat graag kitaar en saksofoon gespeel en in sy bediening gebruik het.

Hy was op verskeie terreine van die alledaagse bestaan van Midvaal se mense betrokke en is dikwels gesien by aktiwiteite om die gebied te verfraai, op sy fiets tydens wedrenne ten bate van ‘n goeie doel, of by uitreike om verwaarloosde diere te red.

Dit is veral sy betrokkenheid by die Meyertonse brandweer waarvoor hy nog lank onthou en baie gemis gaan word. Hy het die afgelope 10 jaar beradingsdienste hier gelewer – nie net aan mense wat geliefdes of eiendom in brande verloor het nie, maar ook aan brandweerpersoneel wat soms met uiters ontstellende gebeure in hul werk gekonfronteer word.

Volgens mnr. Tertius Engelbrecht, ‘n jarelange lid van Midvaal Brandweer, het hy pastoor Gerhard jare gelede ontmoet tydens ‘n groot grasbrand waar die pastoor gestop het om vir brandweermanne koeldrank te bring. Hy was daarna gereeld by die stasie of op tonele om bystand te gee aan die families van iemand wat seergekry of gesterf het.

“Ons het byvoorbeeld een wintersnag ‘n huisbrand gehad waarin drie kinders sowel as die ma en pa gesterf het. Na die brand was daar baie vrae onder ons brandweermanne, vir wie dit moeilik was om die gebeure te verwerk. Pastoor Gerhard het berading aan ons kom gee en verduidelik dat dinge met ‘n rede gebeur. Dit het vir die manne baie sin gemaak. Elkeen het dit verstaan en kon weer aangaan,” sê Tertius.

“Jy kon hom enige tyd bel om te kom help, en hy was daar. Hy was ook baie betrokke as ons manne vir brandweerkompetisies geoefen het. Hy het selfs saam met ons geoefen en ons moed ingepraat. Voor elke kompetisie het ons as span bymekaar gekom en hy het vir ons gebid. Hy was ‘n goeie mens wat ander altyd eerste gestel het en sou sy laaste geld of kos vir iemand gee wat dit nodig gehad het. Hier by Midvaal Brandweer het hy op een of ander manier elke brandweerman met sy vriendelikheid en positiewe geaardheid geïnspireer.”

‘n Gedenkdiens word Saterdag, 31 Julie, om 11:00 gehou om die lewe van pastoor Gerhard, wat ‘n wandelende getuienis vir so baie mense was, te vier.

Wyle pastoor Gerhard Oosthuizen.
Pastoor Gerhard in sy brandweeruitrusting as nie-amptelike lid van die span, wat berading gegee het aan brandweermanne en mense wat in brande beseer is of geliefdes verloor het.

 

************************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button