LifestyleNews

Engela bewaar haar fossielklip as kleinood vir die nageslag

“Ek het onmiddellik besef dis beslis nie ‘n mensgemaakte klip nie. Ek is my hele lewe lank baie lief vir mooi klippe en het nogal ‘n oog daarvoor," sê Engela

VANDERBIJLPARK. – Mev. Engela van Wyk beskryf haarself as ‘n “klipmens” – en nee, dis nie omdat sy ‘n gevoellose vrou is nie. Inteendeel, haar nostalgiese hart klop warm waar dit by mooi en ongewone klippe kom.

Engela sê sy het so sewe jaar gelede op die ongewone klip afgekom toe sy besig was om blomme in haar tuin in SE2, Vanderbijlpark, te plant.“Ek het onmiddellik besef dis beslis nie ‘n mensgemaakte klip nie. Ek is my hele lewe lank baie lief vir mooi klippe en het nogal ‘n oog daarvoor. My pa – hy is 76 – het self geweldig baie kennis oor klippe en het ook gesê dit is beslis ‘n fossielklip,” sê sy.

Dit is 92mm lank en 48mm op sy breedste punt dwars, 21mm op sy dikste punt en 10mm op die ander punt.

“Dit sal goed wees dat mense bewus is van dié soort goed in Vanderbijlpark. Dit laat mens regtig stil raak vir ‘n oomblik om te besef wat voorheen hier was, en dat ons almal maar net tydelike gaste hier is. Dit is iets mooi wat regtig vir die nageslag bewaar moet word.”

‘n Fossielklip is ‘n materiaal wat gevorm of verander is deur ‘n proses wat fossilisasie genoem word en kan duisende of miljoene jare oud wees. Hierdie proses vervang organiese materiale in rots of klip met minerale wat in die rots of ander voorwerpe insypel en dit uiteindelik laat verhard. Sulke veranderinge voeg interessante tekstuur toe aan ‘n andersins plat klip of rotsoppervlak.

Mense wat ook gek is oor klippe kan gerus van hulle laat hoor of ‘n mening oor Engela se klip gee. Stuur u mening na Vaalweekblad by 083 246 0523.

Die voorkant van Engela se fossielklip, wat sy in haar tuin gevind het.

 

Die agterkant van Engela se fossielklip, wat sy in haar tuin gevind het.

Opdatering: Nico van Sasolburg laat weet dat hy ‘n soortgelyke klip het. Dit is 65mm x 35mm groot. Sy oorlede moeder het die klip baie jare gelede tydens ‘n woonwa-vakansie in die Upington-omgewing opgetel. Nico was daardie jare nog besig met sy weermag-opleiding. Hy gaan probeer om nog inligting oor die klip by sy broers te kry.

Nico se klip is hier onder:

Die klip wat Nico se ma in Upington opgetel het.

 

*********************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button